Jouberts in Dallas

Tuesday, February 28, 2006

S.A. Ekonomie roep

Ek het die skielike nuus gekry dat daar vir my moontlike werk vir 'n S.A klient is deur my maatskappy, maar hulle wil he^ ek moet vir 2 weke soontoe kom om die basis reg te kry. Ek sal dan hopelik genoeg werk bymekaar kan maak om hier in Dallas te kom doen totdat ons weer teruggaan.

Al is dit nie ideaal nie, help dit seker nie om daarteen te skop nie. Dit blyk na die enigste manier hoe ek die werk gedoen gaan kry. So ek is more-oggend vroeg op 'n vlug terug S.A toe, en sal dan daar wees totdat ek die 17e Maart weer terugkom Dallas toe. Ek het dit maar so probeer reel om in Jana se besigste tyd ook te wees, dan mis ons die minste tyd saam. Ek weet dit gaan nie vir een van ons lekker wees nie, maar ons maak nou die beste daarvan.

Monday, February 27, 2006

JFK in Dallas

Jana het Vrydagoggend bietjie af gevat by die werk. Sy moes saam met die rondwys-tannie gaan aansoek doen vir haar "social security number" - die Amerikaanse weergawe van 'n ID nommer. Ons weet eintlik nou nog nie hoekom sy 'n SSN nodig het nie, hulle wil seker maar net soveel van jou weet as moontlik.

Jana se werk het ook al begin reel aan 'n Amerikaanse bankrekening by Citibank toe ons nog in S.A was. Dit is vir die daaglikse toelaag wat hulle haar betaal in dollars. Hulle het nou nog inligting nodig gehad, wat ons vir hulle moes pos. Dit is eintlik net 'n gesukkel en daar is baie min Citibank takke hier rond (klink my daar is nie eers baie in die hele Amerika nie). Ons het maar in elk geval gegaan, al is dit net om hulle van ons rug af te kry. Ons het toe sommer die raad van baie ander gevolg en 'n rekening gaan oopmaak by "Bank of America". Dit is die grootste bank groep hier en dit was regtig maklik om 'n rekening oop te maak. So van nou af gaan ons maar die toelaag daar inbetaal.

Dit het Vrydag sommer skielik begin reen. Dit is redelik koud en het omtrent die hele dag gereen. Dit het weer ons planne belemmer om Vrydagaand so bietjie by "West Village" rond te loop. Dit is sommer so paar winkels en restaurante hier naby, maar is nie onder 'n dak soos 'n mall nie, so ons sou net natgereen het.

Ons het toe sommer 'n Pay-as-you-go selfoon simkaart vir my gekry wat ek nou in my foon gebruik. Ek het 'n e-mail gestuur met my nommer, so die wat dit nie gekry het nie (en die nommer nodig het), kan my maar net e-mail - ek sal dit dan aanstuur. Jana sal seker in volgende week sommer 'n kontrak vir haar kry. Sy kan 'n spesiale storie doen deur haar werk. Dit klink ook asof dit niks gaan kos om die kontrak vroeg te stop nie, so dit sal die beste werk vir haar.

Die mense kan gewoonlik dadelik hoor ons is nie van Amerika af nie (ek sukkel dan al eintlik met die Engels in S.A ook!). Partykeer vra hulle waar ons vandaan kom en is gewoonlik baie geinteresseerd oor Suid Afrika. Die een meisie by die Citibank het ons sommer uitgevra oor Charlize Theron. Die ou wat ons by die "Bank of America" gehelp het het ons weer uitgevra oor krieket. Hy hou van krieket, maar hy kom van die midde ooste af. Vir al die ander Amerikaners is krieket 'n onbekende sport!

Ons het Saterdagaand by 'n Italiaanse plekkie (Ferre) gaan eet. Dit is in 'n deel hier naby wat hulle West Village noem. Dit was baie lekker maar nogal duur. Dis maar een van daai kere wat ons liewer nie na Rand toe convert nie! Ons het gesien mens kan nogal 'n mooi deel van die stad sien vanaf die boonste vlak van hulle parkering, so ek sal volgende keer bietjie die kamera saamvat en vir julle fotos stuur.

Vir die wat nie weet nie, John F. Kennedy was op 22 November 1963 hier in Dallas die slagoffer van 'n sluipmoord. Hulle het 'n paar museums en gedenktekens in die stad daarvoor. Ons was eers na 'n monument in Dealey Plaza en daarna na 'n gedenk plek. Dit is in 'n snaakse vorm met 4 mure, sonder 'n dak waarin jy kan loop. Ons het 'n hele paar fotos geneem. Ek sal van hulle op die internet sit vir die wat wil gaan kyk.
Ons was toe ook na die "Conspiracy Museum". Dit is 'n museum wat meer in die "conspiracy theory" ingaan. Daar was regtig baie interessante goed daar. Ons het ook 'n video gekyk van die ondersoek en alles wat snaaks is daaromtrent. Dit kom maar daarop neer dat dit lyk asof baie goed toegesmeer is, en die publiek nog steeds nie regtig weet wie hom geskiet het, en hoekom nie.
Daarna is ons na die "Sixth Floor Museum". Dit is 'n museum op dieselfde vloer (julle het reg geraai - vloer 6) van die gebou waaruit Lee Harvey Oswald blykbaar vir JFK geskiet het. Hulle het regtig baie moeite gedoen met die museum en ek moet se^ dit voel nogal op 'n manier snaaks om in dieselfde plek te staan waar Lee Harvey Oswald gestaan het (of hy nou vir JFK doodgeskiet het, of nie). Die plek in die pad waar JFK geskiet is, is ook gemerk.

Ons is daarna na 'n plek wat meestal groothandel klere verkoop. Dit is in 'n voorstad van Dallas wat "Allen" genoem word. Die plek se naam is "Allen Premium Outlets". Ons het regtig die grootte van die plek onderskat. Dit is ook in die vorm van 'n vierkant, met al die winkels op die rante. Daar is al die winkels soos Nike, Reebok, Adidas en klomp ander waarvan ons die name nie ken nie. Die klere is oor die algemeen baie goed geprys (in vergelyking met S.A) en deur net te kyk na hoeveel Amerikaners soontoe gaan, moet dit goed geprys wees vir hulle ook! Ek het paar goedjies by die Nike winkel gekoop, maar ons het nog nie iets vir Jana gekoop nie. Sal eendag weer moet terug gaan, want ons was te moeg om alles deur te loop.

Hierdie week gaan seker weer 'n lang werksweek wees. Sal julle op hoogte hou.

Thursday, February 23, 2006

Shopping

Ons het nou nog nie eintlik veel uit gegaan nie, so die meeste wat ek julle kan vertel is van die goedjies wat ons koop en wat ons in winkels sien.

Ek het julle vertel dat ek vir Valentynsdag vir ons 'n bottel wyn gekoop het. Dit was by so Wal-mart winkeltjie. Wat ek nie gese^ het nie, was dat die till-tannie my toe sommer vir my I.D vra! Ek weet ek dra my jare goed, maar regtig.. met my stoppelbaard en al! Ek dink dis seker maar wet by hulle of iets? Ek het toe nie eers my paspoort by my gehad nie, en wys toe maar vir haar my S.A bestuurderslisensie. My geboortedatum is baie klein daar erens op. Sy was toe heel gelukkig en tik die datum op die till in. So dit lyk vir my hulle moet dit vra.
Intussen het ek agtergekom dat nie almal dit doen nie. Dit hang seker maar af hoe die weer is.

Party winkels gee ook sulke kaartjies wat 'n tipe "loyalty card" is. As jy die kaartjie wys wanneer jy betaal, dan kry jy sommer afslag op die goed. Die kaartjies kos gewoonlik niks. Jy moet maar net 'n vormpie invul. Mens weet net nie altyd watter winkels het nou eintlik sulke kaartjies nie. Ons het nog net kaartjies by Albertsons, die supermark winkeltjie hier naby ons, en dis ook maar net omdat die tannie wat ons rondgewys het ons gehelp het daarmee!

As mens met jou kredietkaart betaal dan teken jy by baie van die plekke ook maar op 'n uitgedrukte strokie (soos wat ons gewoonlik doen). Maar dan is daar ander plekke wat so "touch-screen" het. Jy moet dan met so spesiale pen sommer op hierdie ding teken. Elektronies en als! Ek het dit nog nie self gedoen nie, maar ek het al dop gehou as die "bobaas kredietkaart-swiper" in ons huis (dis nou Jana vir die wat wonder) dit doen.

Nog iets wat ek opgemerk het is dat die vervaardigers sommer mekaar aanvat en produkte vergelyk op hulle advertensies en produkte self. Lyk my hulle kan dit sommer direk doen. In S.A moet hulle wille skimpe gooi om te wys hulle is beter as die ander. Hier sal jy bv 'n seep koop, dan se^ dit sommer op die boks dat hulle beter is as 'n ander soort (by die naam)! Een van die advertensies op die televisie vir internet se^ hulle ook sommer dat hulle internet vinniger is as een van die ander providers.

Ons het gisteraand vir ons gaan pizza koop by 'n plekkie hiernaby om sommer by die huis te kom eet. Wat ons nou ook al agtergekom het, is dat hulle nie juis van "Take Aways" praat nie - dit is "To Go". So ons het vir ons "To Go" pizza gaan koop. Karien het ons al voor die tyd gewaarsku, en ons het dit gisteraand ook gesien. Pizza is een van die goed wat jy nie moet oorskakel Rand toe nie, want dan sal jy dit nooit koop nie. Ons het gisteraand 'n allemintige $20 vir ons pizza betaal! Ek moet se^ dat dit 'n reuse ding was. Ek was maar bietjie skepties oor die grootte, en bestel toe 'n Extra Large. Ek moes van beter geweet het in Texas! Die Extra Large was toe genoeg vir my vir 'n hele ete vandag ook!

Intussen vorder ons toerplanne. Ons wil nou kaartjies bespreek vir die week in New York saam met Eben-hulle. Ek en Jana oorweeg om op pad terug net vir so 2 dae in Chicago oor te stop. Jana se nefie (wat in Kanada bly) wil ook vir 'n paar dae by ons in Dallas kom kuier. Dan wil ons ook heel aan die einde (seker so die eerste week in Julie) vir hulle in Vancouver gaan kuier. Sal julle meer vertel sodra dit gereel is.

Monday, February 20, 2006

Naweekplanne vasgevries

Ons Billy Bob's en Dallas Arts District planne vir die naweek het toe ongelukkig nie gerealiseer nie. Dit was baie koud oor die naweek en ons het 'n tipe ysreen gehad. Dit veroorsaak dat die paaie so yslagie kry. Op die televisie het dit omtrent soos stampkarretjies gelyk op die highways! Al hou ons van stampkarretjies, was ons nie baie lus om uit te gaan en dit te probeer nie.. seker maar omdat dit 'n vreemde land is, en o, ja - die kar is outomaties ook, so ek kan nie lekker "terug gear" om beter effek te kry nie! Alle grappies op 'n stokkie - die gladde paaie het ons toe maar binne die huis gehou!

Ons het maar bietjie DVD gekyk en Jana het bietjie opgevang met training en goed wat sy nog moes doen vir die werk.

Dit lyk asof hierdie week darem bietjie warmer gaan word. Jana het weer die vooruitsig van lang ure, maar ons maak maar die beste van elke oomblik.

Voor ek weer vergeet, baie geluk aan die Gestetner Eagles, wat toe die Pro20 finaal gewen het! Ek is seker Bloemfontein se deure is wawyd oop vir almal wat al die trofees vir sporte in S.A op een hoop wil sien ;-)

Saturday, February 18, 2006

Dip 'n Ouma?

Die laaste paar dae was maar lekker koud. Daar is lyk my kans vir 'n tipe van ysreen. Dit maak die paaie glo redelik glad en partykeer bly die mense dan sommer by die huis.

Ek het hierdie week Corn Dogs geeet. Ek weet nie of mens dit in S.A kry nie, maar ek het dit nog nooit gesien nie. Dit is maar soos 'n vienna op 'n stokkie, maar met een of ander deeg rondom. Jy maak dit sommer so van vries af warm in die mikrogolf.
Dit was nou nie juis iets besonders nie, maar is nogal 'n vinnige manier om iets in jou maag te kry as jy honger is!



Ons het gisteraand take-aways gekry by Taco Bell. Dit is hulle Mexican take-aways weergawe van McDonalds. Dit was nogal lekker en ons het so combo ding gevat waar jy 'n Crunchwrap met 'n Taco kry. Die crunchwrap is maar soos 'n tipe opgevoude taco. Ons eet toe net ons crunchwraps daar, en wou die taco's sommer huis toe vat vir bietjie later. Slim meneertjie (dis nou ek) gooi toe ons tacos saam met die ander goed in die asblikkie daar binne die plek sonder om te dink! Daar gaan die res van ons aandete toe! Jana het omtrent op die vloer gekrul soos sy natuurlik weer vir my lag, en wou nie gehad het ek moes dit soos 'n boemelaar weer uitduik nie! (Sy weet seker nog nie hoe dit voel om baie honger te wees nie?!) So nou weet ons nogsteeds nie hoe proe hulle regte taco's by Taco Bell nie. Sal maar weer moet gaan.
'n Ander ding wat ek voor die tyd ook gehoor het, is dat al die plekke nogal groot is op "Soda Fountain" tipe goed, waar jy maar soveel koeldrank as jy wil kan kry. Hulle gee sommer sulke reuse glase, en as jy lus is, gaan haal jy maar net nog. Weet nie of ons net nie gewoond is daaraan nie, maar mens kan ook net soveel koeldrank op 'n slag drink! Tensy hierdie mense een of ander kameel-geen in het, wat ons nie het nie?

Ons het natuurlik ook 'n mark gesien vir beskuit. Nadat ek so bietjie lus geraak het vir beskuit het ons die soektog aan die gang gesit tydens ons 11:30PM grocery-shopping ekspedisies! Maar niks! Jana het bietjie by die werk uitgevra en die meeste mense weet nie eers wat beskuit is nie. Die een (Indier) meisie vertel toe van 'n Indiese plekkie waar sy so iets kry, maar ek is nou nie hier om onbekende Indiese beskuit uit te probeer nie. Groot mark vir "Dip 'n Ouma"!

Ek het vanoggend (ons tyd) die Super 14 game geluister tussen die Cheetahs en die Sharks op Durban. Groot naelbyt (soos gewoonlik met die Vrystaat), maar ons het toe darem 27 - 26 vir die Sharks so effens (blik)ore aangesit.. sjoe...

Ons gaan vanaand saam met ander mense van S.A (wat ons nog nie ontmoet het nie) na 'n dans, show, entertainment tipe plek in Fort Worth. Fort Worth is die stad (of miskien dorp) net so 30 - 40 minute uit Dallas. Dit sal nou ons eerste keer in Fort Worth wees. Die plekkie waarnatoe ons gaan se naam is Billy Bobs. Klink soos 'n Country-tipe plekkie. Sal maar dinge gaan uitkyk en julle laat weet.. heeee haaaaa..

Ons wil ook graag Sondag bietjie na die "Arts District" hier in Dallas stad toe gaan. Daar is 'n museum en allerhande goedjies om te sien. Hopelik kan ons bietjie fotos neem en sal julle volgende keer meer vertel.

Thursday, February 16, 2006

Amerikaanse karre gebruik "gas"

Ons het gisteraand vir die eerste keer gaan "gas" ingooi soos hierdie mense sal se^. Jana het van die werk af gekom, en my kom oplaai by die huis om saam met haar te gaan. Aangesien mens dit self moet doen, sal dit seker beter wees as ons altwee die nuwe ervaring deurmaak! Ons stop toe by 'n Shell garage net hier naby. Die pomp verduidelik darem redelik mooi wat mens moet doen. Jy kan of voor die tyd kontant gaan betaal binne, of jy kan sommer jou kredietkaart by die pomp swipe voor die tyd. Die ding se^ toe dat hy jou vra vir 'n zip-code as jy jou kredietkaart swipe, en alle internasionale kredietkaarte moet eers na die kantoortjie gevat word. Jana moet nog 'n kredietkaart kry by die PwC hier, so sy gaan toe binne-toe, waar die ou die pomp "aansit", en sommer haar kredietkaart hou.
Ons gooi toe vir die eerste keer in ons lewens SELF petrol in.. ag, ek bedoel "gas". Dit was darem nie te moeilik nie! Ek dink dit was omtrent so $40 in totaal. Kan nie mooi onthou nie, maar ek dink dit was so $2.25 / gallon (wat so 3.8 liter is), so hulle petrol is redelik goedkoper as ons sin (werk uit op so +- R3.60 per liter).

Lyk my die Amerikaners is baie groot op Valentynsdag. Hulle spandeer verskriklik baie geld, en alle winkels is reg vir die rush. Jana se^ van die mense by haar werk se^ 'n bos rose kan sommer $70 kos! Ons het maar die stiller Valentynsdag gekies en ek het vir ons biejie kos gemaak by die woonstel. Ons het ook 'n bottel wyn gehad wat van California af kom. Dit was nogal lekker.

Die internet in ons woonstel het vanoggend sommer weer af gegaan. Ek bel toe die mense wat die netwerke hier doen, en ons was vir 'n hele ruk op die telefoon totdat hulle besluit het om maar iemand uit te stuur. So bietjie later peuter ek toe sommer self by die kassie hier waar die netwerk drade inkom. En wat wou.. daar werk dit toe sommer weer! Daar is seker een of ander konneksie wat nie lekker is nie. So nou kom die technician nie meer nie.

Ek het ook die goeie nuus gekry dat my werk vir my 'n kaartjie sal koop om na 'n Java konferensie te gaan. Dit is 'n konferensie oor die programmeertaal wat ek op die oomblik redelik baie gebruik. Die konferensie is van 16 - 19 Mei in San Fransisco. Ek moet net my eie vervoer en verblyf betaal. Die konferensie-kaartjie was so duur, dat ek glad nie omgee vir dit nie! Jana sal seker nie kan saamgaan nie, want ons wil dalk die week daarna verlof vat om saam met Eben-hulle bietjie vakansie te hou.. miskien meer na New York se kant toe.

Jana het 'n e-mail uitgestuur vir klomp mense om ook so bietjie haar weergawe van die gebeure tot dusver te vertel. Daarin het sy die web-site link gesit na die plek waar ons fotos is. Daar is nog nie baie nie, maar ons sal dit aanvul soos die tyd verloop. So die van julle wat nie die e-mail gekry het nie, of ook wil weet waar die fotos is, kan my sommer net e-mail.

Tot volgende keer..

Tuesday, February 14, 2006

Go Cheetahs!

Ek sal later seker meer nuus uit Amerika vertel. Hier is sommer so bietjie nuus op S.A bodem. Wou net gou seker maak almal is bewus daarvan dat die Vrystaters besig is om geskiedenis te maak..

Die hele wereld weet seker teen hierdie tyd dat ons die Currie-beker kampioene is.. Toe wen ons nog die Standard Bank krieket reeks ook, en ek sien ons speel nou Sondag in die Pro20 krieket finaal ook mmm dit moet een of ander rekord wees. Ons raak nou soos die Australie van wereld sport?

Die ander provinsies sal maar nuwe sporte moet uitdink as hulle ook in iets wil wen.. Ek sal as ons terug is vir hulle kom vertel van baseball, basketball en football ;-)

Maar wag, laat ek nie te gou praat nie - alle sterkte vir die Gestetner Eagles vir Sondag! Viva die wit tornado!

Monday, February 13, 2006

Nuwe speelgoed

Ons was Saterdagaand toe na 'n ander mall in Dallas, die Northpark mall. Dit het ook baie winkels, maar ons het besluit dat die malls bietjie anders is hier as in S.A. Hulle het omtrent net die eksklusiewe winkels met duur goed en fancy eetplekke. Ons gaan meer vir scenery en nie juis om iets te koop nie. As jy goed wil koop moet jy maar in die buurte rondry na winkels toe. Hulle het meer goed soos "crossings" waar paar winkels parkering deel. Dis waar jy winkels kry soos Target, Best Buy, CompUSA, Wal-mart, ens.

Ek en Jana wissel nou al die bestuurdery met ons Ford af, so ons altwee kom al redelik reg. Dit is nogsteeds 'n baie snaakse gevoel om aan die verkeerde kant van die kar te sit en aan die verkeerde kant van die pad te ry! Dit help baie as ons twee in die kar is, maar as mens bietjie senuwee-agtig raak dan neem ons instinkte oor!

Ons het gisteraand by 'n Chinese plekkie take-aways gekoop. Dit was nogal lekker en gee ook so baie kos soos by ons. Hulle gebruik 'n fancy ding as jy take-aways bestel. Jy kry so dingetjie wat jy vashou in jou hand as jy klaar jou bestelling geplaas het. Dan kan jy gaan sit en wag vir jou kos. Sodra jou kos reg is, dan vibreer die ding in jou hand sommer! Dan weet jy dis jou beurt om vorentoe te gaan en jou kos te kry.

Vanoggend (Sondag oggend) het ons redelik laat geslaap en het die wonder van die internet gebruik om met my broer te gesels. Ons kon mekaar sien en gesels deur MSN Messenger. Ek was nogal beindruk met die kwaliteit!
Die een meisie waarmee Jana al gesels het wat hier in ons gebou bly, en ook op secondment is van Bloemfontein af het vanoggend by ons kom koffie drink. Dit was nogal lekker om weer met iemand anders Afrikaans te kan praat! Sy is nou al so 3 weke hier en het ons van 'n paar goedjies vertel.

Daarna het ons omtrent in die strate verdwaal op soek na 'n Best Buy. Hulle is een van die groot winkels hier vir elektroniese toerusting. Ons koop toe 'n "wireless router". Dis iets waarmee ek en Jana nou altwee gelyk met ons notebook rekenaars op die internet kan gaan sonder drade in ons woonstel. So ons kan nou enige plek in die woonstel sit en op die "information highway" spring!
Ons skraap toe ook bietjie ons moed bymekaar en koop vir ons 'n goeie digitale kamera. Dit is 'n Canon EOS 350D. Francois het ook so een en ek het al baie goeie goed van hom gehoor (dis nou goeie goed van die kamera en nie van Francois nie...) So nou het ons 'n goeie kamera waarmee ons Amerika mooi kan afneem! Ek is nou besig om bietjie my fotografie kennis op te skerp sodat ek darem die kamera kan bedryf en nie heeltemal soos 'n amateur lyk nie.

Aangesien ek ook nou al tekkies het gaan ek hopelik van more (Maandag) begin gym. Ek moet darem seker beter lyk voordag ek (hopelik) vir Chuck Norris ontmoet!
Jana werk nou baie hard en ons sal vir die eerste ruk mooi moet beplan aan wat ons elke naweek wil doen. Ek sal hierdie week bietjie rondkyk vir wat ons volgende naweek kan doen. Hopelik is Jana-hulle minder besig na hulle eerste deadline, wat so helfte Maart is.

Lekker week vir almal.. Sal julle op hoogte hou!

Saturday, February 11, 2006

Eerste shopping

Ons het gisteraand vir die eerste keer na 'n shopping mall gegaan hier in Dallas. Dit was die Galleria mall bietjie na die noordekant van Dallas. Klink my dit was een van die eerste malls in Dallas (dalk een van die eerstes in die U.S?). Die mall is nogal groot: 3 vloere met 'n hele klomp winkels. Dit is baie moeilik om die grootte te skat, maar ek dink nie dit het veel meer winkels as Menlyn nie (miskien so klein bietjie meer).
Maar ek is alweer besig om die storie vooruit te hardloop.. laat ek julle eers vertel hoe ek daar gekom het..

Jana se klient is redelik naby die Galleria mall en sy sou tot so 18:00 gewerk het. Ek besluit toe om bietjie die "public transport" uit te toets om daar te kom. Taxis (cabs) lyk maar redelik duur, so ek kyk toe na hulle bus / trein diens wat hulle hier het. Hulle noem dit DART (Dallas Area Rapid Transport). Hulle het darem 'n redelike goeie web-site, so ek kon goed agterkom wat ek daar moet doen. Ek stap toe na die naaste trein stasietjie hier by ons, koop 'n "day pass" vir $2.50, wat jou toelaat om vir 'n hele dag op enige DART bus of treintjie te ry. Die treintjie vat my toe na 'n volgende stasie waar ek afklim en wag vir die regte bus. Die bus ry redelik vinnig en stop net by sy eie bus stoppe as daar iemand staan om op te klim, of as jy so knoppie binne die bus druk om te wys jy wil afklim. Dit was vir my net bietjie moeilik om te besluit waar ek wil afklim, want ek ken mos nou nie die omgewing nie! Gelukkig het ek voor die tyd bietjie na die kaarte en goed gekyk (Google Earth en die internet is darem wonderlik!). So ek kon toe reg voor Galleria mall afklim.
Nadat Jana so bietjie verdwaal het en ek en sy met "stadige" SMSe gekommunikeer het, het ek haar daar gekry. Ons sal vinnig vir ons pay-as-you-go tipe selfone hier moet kry, anders gaan ons net sukkel om met mekaar te gesels.

Ons koop toe vir ons Levis jeans, by 'n Levis winkeltjie. Hulle kos so $40 - $44 per jean, maar was afgemerk tot $30, so ons het gedink dit was nie te sleg nie. Die meeste winkels het die goeie "sales" taktiek om jou die heeltyd te vra of jy nie dalk nog iets saam met dit wat jy gekoop het wil he^ nie. By die Levis winkel sal hulle bv. vra of jy nie 'n belt of hemp saam met jou nuwe broek wil he^ nie.
Ek koop toe tekkies (New Balance) vir $49, waar hulle toe op dieselfde "wil-jy-nie-nog-iets" manier omtrent 12 pare kort wit kousies aan my afsmeer. So ek behoort nou reg te wees met sulke kousies vir die res van die jaar!
Jana het vir haar 'n Fossil donkerbril gekoop, en ons het 'n paar DVDs gekry. Dis dalk nog te vinnig om te se^, maar oor die algemeen lyk die goed redelik dieselfde geprys as by ons. Klere (brand names) lyk redelik goedkoper, DVDs is baie goedkoper (partykeer sommer $10) maar goed soos CDs is maar dieselfde (+- $20). Kos en uiteet is ook maar baie dieselfde, maar miskien moet ons probeer ophou om alles om te skakel in Rand?
Ons het ook by 'n Meksikaanse plekkie geeet. Maar gesukkel om te weet wat alles is, en weereens om te hoor wat die mense se^! Hulle kyk ons ook toe baie snaaks aan toe Jana vra vir water. Dis lyk my glad nie 'n ding wat jy in daardie restaurant kan kry nie (weet nie van ander nie). Ek dink nou net..hoe moeilik kan dit wees.. druk die glas onder die kraan in, en bring dit vir ons?

Ek het reg gekom op RSG se web-site om hulle te kan luister. Voor almal nou dink ek kan nie sonder "se^-wie met Nikkie" nie, dit was eintlik vir die Super 14 rugby! Baie jammer dat die Cheetahs verloor het, en ek kan nou al die Bulls hoor oor die currie-beker "re-match"! Maar ons almal weet dat die Vrystaat eintlik nooit 'n game verloor nie - hulle hardloop net uit tyd uit! Ek is nou besig om die Stormers - Cats game te luister. Klink of die Cats besig is om bietjie pak te kry.

Dit is interressant om te sien hoe die internet ons lewens verander (of kan verander). Ek moet byse^ dat ek nie van ons standaard "dial-up" internet in S.A praat nie, maar meer die "broadband" internet waarvan hulle so praat ;-) Dit laat mens basies toe om "video streaming" te kan doen. Daarmee kan mens dan goed soos rugby wedstryde deur jou internet kyk. Daar is allerhande kostes by betrokke, maar ek is seker al hoe meer mense doen dit. Om bv. die Super 14 te kyk, kan jy gaan na http://www.setanta.com of http://www.mediazone.com. MNET het ook 'n web-site vir Suid-Afrikaners om goed soos Carte Blanche, Egoli, ens te kan kyk: http://www.kuduclub.com/.

Een ding wat my nog partykeer deurmekaar het, is hoe hulle se^ wanneer televisie programme wys. Hulle sal bv. se^ dat 'n sekere show Vrydagaande 10PM ET/PT wys. Nou is dit dan nou 10PM Eastern time, of 10PM Pacific Time, of altwee? - Ek sal julle laat weet sodra ek dit uitgepluis het ;-)

Ek het ook nou al nog 'n paar fototjies geneem wat ons op Christian se web-site gesit het. Ons moet nou net vir Jana so ver kry om bietjie 'n e-mail vir almal te stuur, waarin sy sal se^ waar die foto's is.

Jana het gister ook met 'n paar mense gesels (oor die internet) wat van S.A af kom en nou hier in Dallas vir PwC werk. Een van hulle is al so 3 jaar hier (van Stellenbosch af), terwyl 'n ander meisie van Bloemfontein af kom en in dieselfde gebou as ons bly! - net een vloer onder ons. Sy is nou nog net so 3 weke hier en ons sal bietjie 'n plan maak om mekaar te sien.

Jana werk vandag (Saterdag) weer, so ons sal seker vanaand na 'n ander shopping plekkie gaan en more dalk bietjie in Dallas rondry - sal julle alles vertel.

Friday, February 10, 2006

Begin al produktief raak

Jana ry nou al van Dinsdag af elke dag na haar klient toe. Dit is lyk my so +- 10 myl van ons huisie af op die Dallas North Tollway ('n tolpad hier naby ons). Ek was nou nog nie saam met haar daar nie, so ek weet nie eintlik hoe dit lyk nie - sy sal julle meer kan vertel.
Dit klink asof sy omtrent die hele tyd wat ons hier gaan wees by daardie een klient gaan bly. Die oudit-professie is lyk my bietjie anders hier.

Soos julle darem seker kan agterkom is die internet aan die werk. Ek is baie impressed met die spoed wat ons hier kry. Ek download goed teen omtrent so 350KB/s - iets waaraan ek definitief gewoond sal kan raak! Hier is 'n hele paar netwerkpunte in die woonstel, maar die techie wat gister hier was se^ dat net een aktief kan wees. Ek het nou gesien waar hy dit verander, so ek sal dit self kan skuif as ek wil. Ek oorweeg eintlik om vir my 'n WiFi router hier te koop, dan het ek nie meer die draad na my rekenaar nodig nie, en ek en Jana kan gelyktydig op die internet gaan as ons wil.

Ek het ook al die wasmasjien en tuimeldroer uitgetoets. Aangesien deel van my pligte as butler seker is om die klere skoon en netjies te hou! Dit het heel goed gewerk. Weereens getrou aan die standaard is die toerusting omtrent "industrial size"!
Ek begin ook sommer al klaar gewoond raak aan die outomatiese skottelgoed wasser wat ons het. Dit sal definitief een van die beleggings wees wat ek sal maak as ons terug in S.A. is.

Die groep woonstel geboue hier is veronderstel om een "fitness center" te deel. Ek het eergister daaroor gaan uitvra en 'n sekuriteits "tag" gekry. Die plekkie is in een van die ander geboue net so skuins oorkant die straat. Ek het gister gou gaan kyk hoe dit lyk. Dit is 'n heel eenvoudige kamertjie, maar het 'n klomp gym goed in. Ek wil nou vinnig in die gewoonte probeer kom om so bietjie te gaan gym elke dag. Ek moet darem seker die voordele gebruik wat ons het! Maar voordat ek kan gym, sal ek eers vir my tekkies moet gaan koop. Ek het my ou tekkies by die huis gelos, so ek kort dringend skoene. Die mense kyk my al klaar snaaks aan hier.. dink nou net as ek met my Bronx'e gaan gym :-0
Al is een van die ander voordele die swembad in ons gebou, glo ek nie dat ek dit gou sal uitprobeer nie. Die enigste plek waar Transvalers of Vrystaters hulle onkunde wys is in die koue see in die Kaap, definitief nie in 'n koue swembad in Januarie in Dallas nie!

Jana se^ die mense hier (ouditeure) werk maar bietjie anders as in S.A. Lyk nie of hulle regtig 'n lewe het nie! Hulle is lyk my nie baie produktief nie, maar dan wil hulle tot laat in die aande en oor naweke werk omdat hulle so baie werk het. Jana moet nou 'n paar aande elke week tot 9 uur in die aand werk, en lyk my Saterdae tussen 10 en 4 ook! Ons sal maar sien hoe dit gaan..

Ons het nog nie veel meer nuwe goed explore nie. Sal seker die naweek nog bietjie rondry.

Jana se nefie (Christian) in Kanada het vir ons plek gemaak op sy web server waar ons foto's kan host. Ek sal die details aanstuur sodra ons goed daar begin publish het. Het nog nie eintlik veel fotos geneem nie :-(

Groetnis

Wednesday, February 08, 2006

The Eagle has landed

[Hierdie posting is al Maandag, 6Feb geskryf, maar ek publish dit nou eers omdat die internet in ons woonstel nou eers aan die gang is]

Uiteindelik is ons nou hier in ons eie "apartment" in Dallas. Dit is nou Maandag-oggend 6 Feb, maar laat ek eers opvang waar ek laas opgehou het..

Die laaste week voordat ons gevlieg het, het op sy eie ook baie vinnig verby gevlieg. Ons het omtrent elke aand iets aan die gang gehad om mense te groet.
Ons het die Vrydagoggend bietjie later geslaap en toe alles begin inpak. Volgens die reels wat Jana by die travel agents gekry het, kon ons omtrent ons hele huis inpak. (Tussen ons twee kon ons omtrent 200kg saamvat!) Die pakkery het ook nogal lank gevat en voor ons ons kon kry was dit tyd om te ry en ons het 2 redelike swaar tasse gehad. Ons het nie 'n skaal gehad nie en maar gehoop die tasse oorskry nie die 32kg per tas limiet wat ons het nie.
Ons het vinnig vir Corli gaan oplaai en toe is ek, Jana, Corli en ma Irma lughawe toe. Met ons bagasie in-check het die sekuriteitswag toe een van ons tasse deursoek. Weet nie eintlik hoe hy besluit het watter een en hoekom nie, maar nou ja - hy doen ook seker maar net sy werk.
Net toe ons wegloop na die in-check en na die boarding passes kyk, lyk dit toe vir ons asof die sitplekke nie langs mekaar is nie (27G en 27K). Ons was definitief nie bereid om vir so lang trip nie langs mekaar te sit nie. Ons is toe weer terug, maar die vrou verseker ons toe dat dit langs mekaar is.. (Weet nie wie daardie nommer stelsel uitgedink het nie!). Die connecting vlug van Atlanta na Dallas se sitplekke lyk toe ook nie langs mekaar nie, maar die vrou se^ toe dat sy niks daaraan kan doen nie.

Ons het toe 'n koffie gedrink terwyl Dirk, Yvette, Gattie en Annalene ons op die lughawe gekry het. Het so bietjie gesels, maar die spanning was maar hoog. Kort voor lank was die trane al afgevee, ons paspoorte gestamp en loop ons rond in die "duty free" area.
Bangerig, maar baie opgewonde sit ons toe op die vliegtuig en wag om op te styg. Gelukkig was dit toe net 'n 2-sitplek ry. Jana sit teen die venster, en ek teen die paadjie. Seker omtrent so 10 minute voordat ons moet opstyg laat weet die kaptein van ons skippie dat hulle een of ander tegniese probleem gekry het en dat ons vir omtrent 'n uur moet wag voordat ons kan opstyg, maar niemand mag van die vliegtuig af klim nie.
Ons koppe begin toe al klaar draai oor hoe lank die vlug alreeds is, en dat ons nog 'n connecting vlug ook moet haal. Maar nou ja - dis seker beter dat hulle tegniese probleempies optel terwyl ons op die grond is!
Ons het toe op die ou end seker so 1 en 'n half uur later opgestyg as wat ons moes (so 9:00PM Suid-Afrika tyd). Al die movies en inligting op die vliegtuig se "entertainment" goed was nogal interressant, maar dit het so bietjie probleme gegee. Erens deur die aand het die movies net gestop en hulle het elke keer die goed ge-"reset". Tydens die operasie sien ek toe tot my verbasing dat hulle Linux gebruik vir die hele storie. Nie baie goeie advertensie vir Linux as hulle so baie moes restart nie, maar miskien was die lugwaardinne maar Windows users ;-)

Na omtrent 8 ure stop ons toe op een van die Kaap Verdiese eilande vir petrol en nuwe, vars lugwaardinne! Daar moes ons ook omtrent 'n uur op die vliegtuig bly.
Die volgende lang deel was toe seker so 10 ure Atlanta toe. Ek en Jana kon darem so elke kort-kort 'n rukkie slaap inkry. Ek dink sy seker meer as ek, maar dis net omdat sy al baie oefening het om in 'n bewegende voertuig te slaap!

Toe ons in Atlanta aankom was dit net so voor 9:00 die oggend in hulle tyd. So ons was teen hierdie tyd 'n goeie 20 ure van die huis af, maar dit was eintlik net so 12 ure later - wat 'n lang nag!
Die polisie mense by die Atlanta lughawe was nie te vriendelik nie. Ek dink hulle werk is maar bietjie vervelig, maar hulle wou eintlik net hoor wat ons in Amerika kom doen voordat hulle ons toelaat en ons paspoorte stamp.
Nadat ons ons tasse gekry het moes ons dit weer op 'n ander band sit vir die vlug na Dallas. Ek en Jana besluit toe dat ons sommer wil uitvind oor die sitplekke op die volgende vlug. Die ou was toe baie vriendelik en skuif ons toe om langs mekaar te sit.
Daarna moes ons al ons hand bagasie deur die sekuriteit sit. Ons moes ook ons skoene uittrek, belde afhaal en ek moes my rekenaar ook uit sy sak haal. Na die "strip show" het ons toe 'n treintjie gery na die plek waar ons wag vir die vlug na Dallas.
Die vlug sou seker eers so oor 2 ure vertrek en ons het besluit om maar 'n koffie te koop. So toe doen ons ons eerste koop transaksie op Amerikaanse bodem: 2 "iced coffees" by Starbucks. Dit was nogal duur volgens ons ($5.11) en was toe nie eers heeltemal wat ons verwag het nie. Ons het meer iets milk-shakerigs verwag, maar dit was net baie sterk koffie met ys in - maar nou ja, dit het ons wakker gehou! Dit was toe ook sommer die eerste keer wat ons nie kan hoor wat 'n Amerikaner se^ nie.. na omtrent 3 "pardons" en "excuse me"'s kom ons agter sy vra of ons dit "sweetened" of "unsweetened" wil he^!

Ons vlug Dallas toe het toe ook so bietjie laat vertrek, maar dit was darem redelik pynloos. Ek het op die vliegtuig so bietjie geluister na Amerikaners rondom ons, maar al praat hulle seker Engels, kon ek maar min verstaan!
Met nog 'n uur verskil tussen Atlanta en Dallas, kom ons toe seker so 13:00 Dallas-tyd by Dallas Fort-Worth lughawe aan. So ons dag het sopas nog 'n uur langer geword!
Daar wag toe 'n omie van Limo-link service vir ons met 'n bordjie wat se^: J. Joubert. Ons gesels toe bietjie met hom terwyl ons wag vir ons bagasie om uit te kom. Hy help ons toe na die kar, en ja - almal was reg.. alles is net groter! Ons ry toe in 'n Lincoln kar, wat se agterkant omtrent so groot soos ons vorige huis se slaapkamer is (ok, ek oordryf net so klein bietjie, maar dit was baie groot).
Hy vat ons toe na die plekkie waar ons die sleutels moet kry vir ons woonstelletjie. Die tannetjie daar weet toe niks van wat ons wil he^ nie en stuur ons toe na die managing agents vir ons woonstelle. Dit was darem nie te ver nie. Hulle weet toe ook nie veel van die sleutel nie, maar ten minste was ons toe op die regte plek.
Die koddige limo mannetjie raak toe bietjie haastig en ons laai toe maar ons tasse uit en wag in die kantoortjie terwyl die mense die sleutels uitsorteer. Ons kry toe die sleutels, remote en aanwysings na die woonstelletjie en loop toe maar sommer soontoe (darem nie te ver nie).
Die plekkie is groter as ons vorige huisie in Johannesburg en is op die 2de vloer van 'n 3-vloer gebou. Die paar blokke om ons is eintlik almal deel van dieselfde "kompleks".
Die huisie is redelik goed toegerus met 'n wasmasjien, tuimeldroer, skottelgoed wasser, toaster, mikrogolf, oond, televisie, DVD player, telefoon, groot King-size bed, ens.
Dit is ook teenaan die middestad van Dallas. Jana se kantoor is in "downtown Dallas", en ons is net so 1km daarvandaan.

Teen die tyd was ons al redelik honger en stap toe na 'n straatjie hier naby met baie restaurantjies. Ons gaan sit toe sommer by 'n soort pub (amper soos 'n Keg of McGintys).
Ek drink toe my eerste Budweiser (glad nie sleg nie!) en Jana het 'n Celis White gehad (ook 'n tipe bier).



Ons bestel toe elkeen 'n beef burger en chips. Of sal ek eerder se^ 'n hele bees tussen broodjies en 'n land aartappels. Hulle noem dit "skinny fries" (soos McDonalds se dun chippies), maar dis genoeg om Etiopie vir 'n week te onderhou! - G'n wonder die mense is so bietjie vas op die aarde hier nie..



Die hele storie het ons seker so $21 dollar gekos en soos ons uitgevind het is die standaard hier om omtrent 18% tot 20% tip te gee. As jy in Rome is maak jy seker soos die Romeine, so die (darem vriendelike) waitress kry toe haar allemintige tip.

Na ons baie lang Vrydagaand in die lug en uitputtende Saterdag het ons toe sommer 7uur die aand al in die bed geklim. Ek moet se^ die King-size bed werk baie beter as 'n ekonomiese klas vliegtuig sitplekkie!

Sondagoggend was ek en Jana maar altwee redelik "down". Ek dink dit tref ons toe eers dat ons in 'n vreemde land is, ver van almal wat ons ken, met geen groceries in die huis nie! Ons moes mekaar maar bietjie oortuig dat dit te gou is om te besluit of dit lekker is, want dit het toe nie so lekker gevoel nie. Ek dink dit was ook maar omdat daar nog so baie vreemde dinge vir ons voorle^.
'n Tannie van die "relocation company" het ons toe so 11:00 Sondagoggend kom oplaai en ons bietjie in Dallas rondgewys. Sy was baie vriendelik en het ons gevat na Jana se werk toe, die naaste grocery plekkie, hospitale, ens. Ons het maar baie vrae gevra en het lekker met haar gesels. Sy het my ook na 'n rekenaar plekkie gevat waar ek 'n netwerk kabel ten duurste gekoop het vir die internet in ons woonstelletjie (bietjie later meer oor hierdie gesukkel).
Sy vat ons ook toe na Love Field Airport om Jana se huurkar daar te kry. Dit is 'n kleiner lughawe hier in Dallas. Getrou aan die standaarde in Texas, kry Jana toe 'n Ford Taurus kar. Dit is darem nie te groot nie, maar is nogsteeds groter as die gemiddelde kar in S.A. En alles is natuurlik outomaties.. ek het sover nog nie een hand-rat kar gesien nie.
Ons moes toe agter die "rondwys-tannie" aanry na 'n supermark nie te ver van ons huisie af nie, waar ons bietjie groceries sou koop ('n kleiner Walmart met net kos). Jana is sover opgegee as die enigste bestuurder van die kar, so sy het bestuur en ek het aan die kant gesit waar die stuurwiel moes gewees het, ge-navigate en die heeltyd seker gemaak ons bly aan die regterkant van die pad!
Die tannie los ons toe by die supermark en ons koop toe 'n goeie +- $100 se groceries. Die meeste goed is maar omtrent dieselfde geprys as in S.A, behalwe die vleis wat redelik duur is. Die grootste verskil is dat daar honderde make is vir dieselfde ding. Jy moet omtrent uit 20 make vir jou 'n corn-flakes kies!
Ek weet ook nie hoe lank dit sal vat voordat ons ophou om die heeltyd "conversion" sommetjies in ons koppe maak nie: Dollars na Rand, ounces, gallons, feet, ens!
Ek en Jana pak toe self die stukkie pad aan terug na ons huisie toe, pak alles uit en bestudeer so bietjie die Dallas kaarte wat hulle vir ons gegee het.

Ons besluit toe om Sondagmiddag self na Jana se werk te ry om seker te maak ons kry dit reg. So Jana beheer die bokwa, terwyl ek navigate en vir ligte en borde check. Na 'n paar keer het ons darem goed begin regkom.
Ons ry toe sommer na 'n ander winkel bietjie verder van ons af om vir Jana 'n haardroer te gaan koop. Ons het hare saamgebring, maar die plug wat ek in S.A gekoop het convert lyk my toe nou nie ons 220V na die yanks se 110V nie. Jana se haardroer roer skaars as ons dit in-plug.
Gelukkig kry ons toe een by 'n winkel (Target), wat ook omtrent enige ding verkoop - en dit tot 9:00 op 'n Sondagaand!

Terug by die huisie kyk ons bietjie televisie, bel huis toe met die "international dialing card" wat ons gekoop het, en gaan slaap toe voor die eerste groot werksdag.
Ek ry toe vanoggend saam met Jana na haar kantoor toe, sit toe bietjie daar in die kar (ons was natuurlik heeltemal te vroeg!). Sy gaan toe net na 8:00 in, en ek stap toe sommer terug woonstel toe. Die oggend-luggie was toe nogal koel (45F - hierdie een moet julle vir oefening self uitwerk!)

Ek kon toe nogsteeds nie die internet aan die gang kry in die woonstel nie. Druk die kabel in by die muur, maar dis so dood soos 'n mossie. Ek was toe netnou by die managing agents se kantoortjie, wat vir my 'n nommer gegee het wat ek kan bel. Hulle sal nou terugkom na my toe. (Sodra julle hierdie kan lees, moet ek al op die internet wees, so ons hoop maar dit gebeur vinnig!)

Ek hoop alles gaan goed by Jana se werk vandag (sy het een of ander orientering en training). As sy my laat weet, sal ek vanmiddag weer na haar kantoor toe stap om saam met haar terug te ry - sal maar sien vir hoeveel sy kans sien.. ek is klaar baie trots op haar oor hoe goed sy regkom!

Ek gaan nog intussen probeer reel vir 'n plekkie op die internet waar ons bietjie fotos kan publish. Sal laat weet sodra dit aan die gang is.
Ons het 'n telefoon in die woonstel, en ek sal die nommer bietjie aanstuur per e-mail vir die wat dit wil he^. Omdat ek nie graag deur die hele internet gebel wil word nie, gaan ek dit nie hier opsit nie!

Tot volgende keer..

Offline in 'n connected wereld

Hi almal, dankie vir almal wat die blog lees en comment. Soos belowe wil ek die blog gereeld update, maar doen dit nog offline op die oomblik, want ons het nog nie die internet konneksie in ons woonstel aan die gang nie. (Ek tik hierdie gou van Jana se dialup deur haar werk).

Daar kom more 'n ou na die woonstel wat alles behoort te fix, so sodra ek online is, sal ek my BAIE langer opstelle vir julle post!

Tot dan...