Jouberts in Dallas

Tuesday, May 09, 2006

Arizona

Ons het die naweek wat verby is bietjie in Arizona gaan kuier by familie van my. Die oom is een van my ouma se jonger broers. Hulle het in die vroee 90's Amerika toe getrek.

Ons het Saterdagoggend vroeg Phoenix toe gevlieg (die vlug was so bietjie langer as 2 ure) en Oom Piet en Tannie Tokkie het ons daar gekry. Hulle het 2 huise in Arizona - een in Scottsdale (wat omtrent maar deel is van Phoenix) en die ander een in Prescott. Prescott is seker so 80 myl van Phoenix af en is bietjie koeler in die somer. Met Arizona wat omtrent 'n woestyn is, maak 'n paar grade in die somer 'n groot verskil, so hulle spandeer baie tyd Prescott in die warmer tyd van die jaar.

Ons kon sommer dadelik sien nadat ons by die lughawe gery het, dat ons in 'n "wille weste" gebied is. Dit was baie warm en die omgewing lyk so iets tussen die Karoo en 'n woestyn. Daar is baie van daardie regte groot kaktusse wat mens op die Westerns flieks sien. Ons het oppad Prescott toe by 'n klein dorpie met die naam "Sedona" gestop. Sedona is 'n baie mooi plekkie in die "Verde" vallei in noord Arizona. Die dorpie het baie gallerye, kuns winkeltjies en restaurante. Dit is 'n regte toeriste dorpie met 'n baie mooi uitsig van die omgewing.

Ons het 'n entjie uit die dorpie gery na 'n kerkie (of kapel) effens op by die berg wat ook 'n baie mooi uitsig het. Daarna het ons gaan eet by 'n Meksikaanse restaurant in die dorpie (ja, Arizona weet ook van Meksikaanse kos!). Ons het daarna 'n baie klipperige grondpad aangedurf en 'n hele ent teen een van die berge uit gery. Die uitsig is asemrowend en ek kan dit amper nie met enige iets vergelyk wat ek al gesien het nie. Daar is sulke "pink jeep" toere wat jy kan doen, wat lyk my meer gewaagde paadjies aandurf teen die berg uit met 'n oop Jeep.
Sedona is ook bekend onder die "New Age" groepe, vir allerhande idees soos "energy vortexes".



Ons het vinnig gestop vir 'n lekker koppie koffie voordat ons die pad Prescott toe aangedurf het.

'n Ent uit Sedona het ons deur nog 'n baie klein dorpie met die naam "Jerome" gery. Dit was vroeer jare 'n myn dorpie (silwer en koper), maar daar gaan nie meer veel aan nie. Baie van die huisies lyk of hulle uitmekaar wil val, en die manier hoe die huisies so teen die berg gebou is help seker nie vir hulle struktuur nie!

Voor ons weer sien het ons by die huis in Prescott aangekom. Die huis is in 'n baie mooi omgewing en is baie stil. Dit is in 'n tipe van 'n golf estate, maar daar is geen heinings en dit voel vir jou asof jy alleen in die natuur bly. Daar loop wilde diertjies rond en ons het ook ons eerste Coyote in Amerika gesien. Dit is so 'n valerige wolf-tipe dier.

Ons het die aand by 'n restaurant in Prescott gaan eet en tot ons verbasing daag daar toe klomp jong mense op, wat in aandklere aangetrek was. Ons vind toe uit dat dit hulle "prom night" is. Die meisies het baie mooi rokke aangehad, regte ballroom rokke. Dit is lyk my die gewoonte by hulle om eers te gaan uiteet, en dan het die afskeid seremonie net 'n dans. Ek het darem my lekkerste stukkie steak nog op Amerikaanse bodem by daardie restaurantjie in Prescott geeet!

Die Sondagoggend het ons terug Scottsdale toe gegaan en by Oom Piet en tannie Tokkie se kinders gaan kuier. Hulle het 2 seuns wat ook in Scottsdale bly. Die oudste seun is getroud en het nou 2 kinders. Die oudste is 2 jaar oud en die jongste net 2 maande. Die oudste een het ons baie vermaak met alles wat sy by die speelgroepie leer. Ons het lekker middagete gehad en was toe later die middag weer terug lughawe toe.

Hierdie week wat voorle het ons eerste (en seker enigste) baseball wedstryd in, en volgende naweek gaan ons San Francisco toe.

Tot later.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home