Jouberts in Dallas

Saturday, May 20, 2006

JavaOne 2006

Ek het hierdie week (Dinsdag tot Vrydag) 'n konferensie bygewoon hier in San Francisco vir die programmeer taal waarmee ek die meeste van my tyd deurbring, naamlik Java. Ek sal julle nie verveel met al die detail hier nie. Ek beplan om van al die tegniese goed wat ek gesien en gehoor het, op my ander blog te skryf (sodra ek tyd kry!).

Die konferensie was by die Moscone Center hier in San Francisco en ek het in 'n hotel daar naby gebly. 'n Goeie 15 000 mense het die konferensie bygewoon, so dit was sekerlik die grootste konferensie waarby ek nog was. Daar was honderde sessies waaruit mens kon kies en dan woon jy maar die by waarin jy belang stel. Een van die probleme is dat dit baie keer moeilik was om te kies aangesien ek soveel as moontlik wou inpas.

Die sessies was gewoonlik een uur lank met 15 minute tussen sessies (net genoeg om van die een lokaal na die ander te stap). Dit het elke oggend 8:30 begin en ek het elke aand 11:30 eers klaar gemaak! So dit was baie vol dae, met amper nie eers tyd vir eet nie. Eet is vir mense wat baie die geleentheid kry om na sulke goed te gaan!

Ek het die konferensie baie geniet en het baie goed geleer. Dit was ook lekker om vir 'n slag gesigte te kan koppel aan van die groot name in die bedryf waarvan ek gewoonlik net lees.

Ek het hierdie week ook agter gekom dat die weer wat ons die vorige naweek in San Francisco gehad het baie abnormaal was. Hierdie hele week was dit baie koud en die heeltyd mistig. Dit het vanmiddag sommer bietjie gereen. So al die mense wat gese^ het San Francisco is gewoonlik koud, was toe reg. Ek het in die aande terug gestap hotel toe en kon so bietjie meer sien van die middestad in die nag. Die deel tussen die konferensie sentrum en my hotel is nou nie juis die beste deel van die stad nie, maar dit gee mens 'n goeie idee van 'n plek as jy dit ook kan sien. Daar is baie mense wat op die strate bly en geld bedel. Sonder dat ek goeie rede gehad het, het ek maar bietjie onveilig gevoel. Die een middag toe ek verby 'n winkel stap het 'n sekuriteitswag iemand in die straat gevang wat iets uit 'n winkel gesteel het. Hulle het sommer daar in die middel van die pad gestoei (amper gelyk soos 'n movie!). Dit het my maar net weer laat besef dat daardie tipe goed enige plek in die wereld kan gebeur.

Donderdagaand was daar 'n partytjie by die konferensie. Dit word ook in een van die groot sale gehou en daar is allerhande goed om die mense besig te hou. Hierdie jaar se tema het baie met wetenskap te doen gehad en daar was allerhande eksperimente en goed waarna mens kon kyk. Die 2 ouens van "Mythbusters" was ook daar gewees. Dit was nogal lekker, maar ek het net 'n rukkie gebly voordat ek weer terug gegaan het na ander konferensie sessies.

Ek is nou oppad terug Dallas toe en kan amper maar op die lughawe daar slaap, want ons gaan more-oggend baie vroeg New York toe! Ek sal maar 'n draai by die huis maak om my klere te was.. So wanneer julle weer van my hoor, sal dit sekerlik meer nuus oor NY wees.

Lekker naweek!

1 Comments:

  • Hoe gaan julle ooit weer aan die gewone lewe gewoond raak, veral hier in Afrika?
    Ons verlang baie.
    Liefde
    Mamma

    By Anonymous Anonymous, at 8:01 PM  

Post a Comment

<< Home