Jouberts in Dallas

Monday, April 24, 2006

Standby, Las Vegas, Standby

Jammer oor hierdie lang blog, print dit miskien en lees 'n hoofstuk elke aand voor julle gaan slaap.. daar is net so baie om te vertel!

Ons het laasweek mense ontmoet wat ook vir Jana se maatskappy werk, wat van Suid Afrika af kom. Hulle is van die Kaap af en is nou al so 3 jaar in Dallas. Ons het een aand vir hulle gaan kuier en sommer lekker gesels. Dit voel goed om weer sommer net Afrikaans met iemand te kan praat! Hulle vat ons toe na 'n restaurantjie naby hulle huis wat ook deur Suid-Afrikaners besit word. Jana het die eienares dadelik herken en ons vind toe uit dat sy 'n paar jaar gelede een van die winkeltjies in Westgate (Roodepoort) bestuur het. Die tannie ken baie van Jana se familie en dit was een van daai "ai-maar-dis-darem-'n-klein-wereldjie" situasies!

Vrydag-middag is toe die begin van ons Las Vegas naweek. Ons vlug na Vegas was nie direk nie en ons sou in Denver aansluit. Jana het bietjie vroeer van die werk af gekom en ons het net voor 17:00 by die huis gery. Ons vlug was 18:30 na Denver. Soos dit toe nou moes uitwerk was daar 'n groot ongeluk op een van die highways na die lughawe.. ja - die een waarop ons toe was! Ons staan toe vir lank stil en sien ons gaan dit nie maak nie. Dis toe dat ons nou alternatiewe roetes begin vat, en ook so bietjie die 3.8 liter kar se limits toets. Al ons moeite was verniet en ons kom toe net na 18:30 by die lughawe aan. Dit was klaar nie lekker om jou vlug te verpas nie, en die ongeskikte tannie van die lugredery het glad nie gehelp om dit beter te maak nie.
Die enigste manier hoe ons nie ons (nogal duur) kaartjies sou verloor nie, is om op standby te gaan vir die volgende vlug na Vegas. Daar was geen direkte vlugte beskikbaar nie, so ons roete verander toe om deur Los Angeles te gaan. So dit het basies beteken dat ons bagasie al klaar oppad Las Vegas toe was, en ons sit op Dallas lughawe en hoop daar is plek op die vlug na Los Angeles. Dan sal ons op Los Angeles sit en hoop daar is plek op die vliegtuig na Las Vegas. Om alles te kroon is die vlug na Los Angeles nog vertraag ook.
Omdat ons op standby vir die vlug na LA toe was, word ons toe ordentlik deur die sekuriteit deursoek. Elke dingetjie in ons handbagasie en Jana se handsak is deursoek terwyl ons aan niks mag raak nie. Die sekuriteits-omie was darem vriendelik en het ons bietjie beter laat voel.

Ons kry gelukkig toe plek op die vlug na LA en land daar 10 minute voor die volgende vliegtuig na LV vertrek. Ons is letterlik van die een hek na die volgende en ons skiet-gebedjies het gewerk, want daar was vir ons plek op die LV vlug ook! Op die ou end kom ons baie moeg, maar darem veilig (en met ons bagasie) omtrent so 2 uur die oggend in Las Vegas aan. Ons eerste indrukke van Las Vegas was natuurlik die dobbelmasjiene sommer op die lughawe! Ek kon dit nie glo nie. Jy moet omtrent met jou tasse deur al die dobbelmasjiene stap om erens te kom. Ons het 'n shuttle gevat na die hotel waar ons sou bly. Ons het 6 van Jana se werksvriende van SA (wat ook nou in Amerika werk) daar ontmoet. Ons het almal in die MGM Grand gebly. Dit is die grootste hotel in die wereld met 'n allemintige 5044 kamers!
Al die groot en bekende hotelle in Las Vegas is op die "Las Vegas Strip". Die is die straat in Las Vegas waar alles gebeur. Elke hotel probeer groter, beter en meer verlig wees in die aand as die volgende een. Vir my het dit gevoel asof elke hotel soos 'n Sun City op sy eie is. Die hotelle is massief en het groot dobbel areas, swembaddens, baie restaurante, teaters, clubs en winkeltjies sommer binne die hotel.

Ons was toe die Vrydagaand (of eintlik die Saterdagoggend vroeg) saam met ons vriende na een van die clubs in die MGM Grand (die "Tabu"). Alles in Vegas is nogal duur en dit kos 'n goeie $20 per persoon net om in te gaan by die club. Binne die club het ons snaakse kreature gesien. Mens moet maar lig loop daar ;-) Ons het omtrent so 5 uur die oggend gaan slaap, maar ons liggame was nog op Dallas tyd (wat 2 ure voor Vegas is), so dit was eintlik al 7 uur die oggend in Dallas.

Die Saterdag het ons langs die Strip gestap en het 'n buffet ontbyt by een van die hotelle geeet. Daar is so baie om te sien en die straat is baie besig. Daar is ook baie ongewenste adverteerders vir bietjie meer "adult entertainment" (as julle verstaan wat ek bedoel!). Ons voete was al baie seer later die middag en het besluit om eerder 'n bus te vat terug na die hotel toe.

Die Saterdagaand het ons 'n show gekyk van die "Cirque Du Soleil" groep. Die show was in die teater van die MGM Grand. Die naam van die show is "KA", maar moenie dat die lengte van die naam jou laat dink dat die show afgeskeep is nie. Dit was seker een van die beste shows wat ek nog gesien het. Dit het 'n goeie kombinasie van akrobate, toneel en humor gehad. Die goed wat hulle gedoen het was ongelooflik en mens kon net sien dat geen geld gespaar was om van dit 'n eersteklas show te maak nie. Die verhoog was ook nie soos die gewone nie, en kon omtrent in enige rigting draai. Hulle het baie keer die platvorm heeltemal regop laat staan, dan hang die mense aan toue en goed om nogsteeds op die verhoog te wees!

Aangesien Las Vegas in die aand nog meer aan die lewe is as in die dag het ons besluit om weer die Strip te gaan stap en bietjie fotos te neem. Ons het met 'n treintjie gery tot aan die onderkant en ons was omtrent 3 uur die oggend weer terug by die hotel na 'n baie lang stap! Alles was net asemrowend en mens kan nie eintlik vir iemand vertel hoe dit is nie. By die Treasure Island hotel het ons 'n show gekyk wat hulle sommer so langs die hotel in die buitelug hou, so jy staan sommer op die sypaadjie. Dit was oor seerowers, maar nie die soort wat ek ken nie. Hierdie seerowers was in bikinis en het gesing en dans ook!

Die Sondag-oggend moes ons vroeg opstaan vir ons uitstappie na die Grand Canyon. Die Grand Canyon is eintlik nie in Nevada (waar Las Vegas is) nie, maar in Arizona. Maar omdat Las Vegas naby aan die grens en die Grand Canyon is, is dit 'n gewilde uitstappie. Dit was seker die een dag waarin ons die meeste verskillende maniere van vervoer gebruik het. Om julle 'n vinnige idee te gee: Ons het met 'n bussie na 'n klein lughawe naby Vegas gery. Van daar is ons in 'n klein 16-sitplek vliegtuigie na die Grand Canyon. Daar aangekom is ons met 'n helikopter afgevat, tot onder in die Canyon. Ons het toe op 'n bootjie vir 'n ruk op die rivier rondgery en is toe weer met die helikopter boontoe gevat. Van daar is ons met 'n bus na een van die uitkykpunte waar ons middagete gehad het, en is toe weer met die klein vliegtuigie terug na die lughawe buite Vegas.
Dit was 'n groot ondervinding en die Grand Canyon, of ten minste die klein stukkie wat ons gesien het, is net so moeilik om vir mense te verduidelik. Waar ons was, was dit 4000 voet van die rant, tot onder by die rivier. Die rivier wat deur die Grand Canyon loop is die Colorado rivier. Dit begin in die "Rocky Mountains" in eindig erens in Meksiko. Las Vegas se mense het in 1931 die "Hoover Dam" gebou net buite Las Vegas. Die dam voorsien "Sin City" basies van krag en water. Die dam is ook massief. Hulle het lyk my 4 jaar daaraan gebou en daar is so iets soos 90 mense dood terwyl hulle aan die dam gewerk het. Die dam is nogal baie nodig, aangesien Nevada omtrent 'n woestyn is (dele lyk amper soos die Karoo), en Las Vegas is lyk my die stad wat die vinnigste groei in Amerika.

Die uitstappie het langer gevat as wat die mense gese^ het, en ons was 3 uur Sondag middag terug by die hotel. Ons vlug terug na Dallas was geskeduleer vir 5 uur. Die pad, taxis en lughawe was 'n malhuis. Ek skat dis seker erger op Vrydae en Sondag aande. Sonder dat ons erens tyd gemors het (behalwe om in al die rye te staan), mis ons toe ons vlug terug Dallas toe ook! Kan julle dit glo? Ons kom mooi 5uur by die hek aan, net om vertel te word dat die vliegtuig nog daar staan, maar die hekke is klaar gesluit. Daar sit ons toe weer op standby vir die laaste vlug (wat eers 8:40 sou vertrek), met ons bagasie al in Dallas! Ons was weer gelukkig, en kry toe plek op die vliegtuig.. en hierdie keer sommer in die eerste klas! Nou dat ek daaraan dink.. met al die geluk wat ons gehad het met standby's, moes ons eintlik gedobbel het ook!

Ons kom toe so 2 uur Maandag oggend in die bed, na 'n lang, uitputtende, maar baie lekker naweek by die huis. Ek sal binnekort van die naweek se fotos op die foto's website sit, so die wat wil, kan gerus maar gaan kyk.

Monday, April 17, 2006

Houston

Ons het laasweek een aand by 'n "Texas Land and Cattle" gaan eet. Dit is 'n gewilde steakhouse hier in Dallas. Die kos was lekker, maar niks besonders nie (nie in dieselfde klas as Meat Company nie). Dit was vir ons snaaks dat die pudding by 'n steakhouse baie lekkerder as die kos was. En jy kry genoeg pudding! Daar is nog 'n paar steak plekkies wat op my lysie is..

Vrydag het ons in die pad geval Houston toe. Houston is so 240 myl van Dallas af. Een van die klein dorpies op pad Houston toe is Huntsville. Dit is blykbaar 'n plekkie waarvan Sam Houston baie gehou het. Sam Houston was 'n belangrike man in die geskiedenis van Texas (1793 - 1863). Huntsville het 'n monument vir Sam Houston en dit is die wereld se hoogste monument vir 'n Amerikaanse persoon. Die monument is 'n hele 66 voet lank!

Houston is die grootste stad in Texas en die 4de grootste stad in Amerika. Die middestad lyk amper soos Dallas. Wat bietjie anders is, is die hele spul eenrigting strate. Omtrent elke straat is 'n eenrigting. Die hoogste gebou in die middestad is die JP Morgan Chase Tower. Die gebou het 71 vloere en is 970 voet hoog. Gewoonlik kan mens opgaan tot die 60ste vloer, maar die gebou was ongelukkig klaar gesluit toe ons daar kom.
Ons het in die Magnolia Hotel in die middestad gebly. Dit is 'n baie mooi hotel met 23 vloere. Op die dak is daar 'n swembad en mens kan ook 'n mooi uitsig oor die stad kry.

Die Saterdag oggend was ons Houston Space Center toe. Dit is die plek waar jy al die uitstallings en inligting oor NASA kan kry. Ons het baie interessante tegnologie goed gesien. Ons het ook 'n show gekyk waar iemand ons gewys het hoe dit is om in die International Space Station te bly. Daar was ook flieks oor baie van die ruimte goed wat die Amerikaners al gedoen het. Ons het ook in so klein kapsule gery wat 'n groot skerm aan die voorkant het en jou nogal rondruk!

Daarna het ons na die Galveston strand toe gery. Houston is seker so 30 myl van die see (Gulf of Mexico) af, maar daar is 'n paar strandjies waarvan Galveston een is. Die strand was baie vol. Seker omdat dit ook so warm dag was. Ons was nou nie juis baie beindruk met die see en die strand nie. Dit lyk soos 'n groot bruin dam! Miskien het ons hom net op 'n slegte dag gevang, maar dit was nou nie juis iets om oor huis toe te skryf nie.

Vriende van ons wat saam met Jana werk in Johannesburg is ook op secondment deur Jana se werk en bly in Houston. Ons het die Vrydag en Saterdagaand saam met hulle gaan eet. Eers Italiaans en die Saterdagaand die algemene, allergewilde Meksikaans.

Die Sondag oggend was ons na die Houston Downtown Aquarium toe. Die akwarium is baie mooi uitgele en ons het baie mooi visse gesien. Anders as die normale akwarium, het hulle nie net visse nie, en ons het wit tiere, slange en spinnekoppe ook gesien. Daar was een tenk wat "stingrays" in gehad het. Mens kon aan hulle vat ook. Ons het ook op 'n treintjie gery wat ons na 'n haaitenk gevat het. Die treintjie ry in so glas tonnel in die haaitenk in. Dit lyk baie mooi, want jy word omtrent omring deur die haaie.

Die middag was ons na die San Jacinto monument. Daar is lyk my twee paadjies om by die monument uit te kom en die een wat ons toe gekies het, loop toe dood by 'n kanaal (alles deel van die Gulf of Mexico). Ons het toe vir die eerste keer met ons kar op 'n ferry na die anderkant gery. Die San Jacinto monument is opgerig vir die "Battle of San Jacinto". Dit is waar die Texas Revolusie in 1836 opgehou het. Die monument is 561 voet hoog. Daar is ook 'n museum in die voet van die toring, maar dit was ongelukkig ook gesluit toe ons daar was. Hulle is besig met restourasie werk. Rondom die monument is 'n hele park met klomp paadjies, mooi gras en koelte bome. Dit is blykbaar 'n baie gewilde plek vir 'n piekniek want daar was honderde mense wat net daar braai en rondsit.

Ons het die middag by nog 'n bekende Meksikaanse restaurant geeet. Die "Lupe Tortilla". Die atmosfeer is baie lekker en die kos weereens uit die boonste rakke. Ons begin nou nogal 'n smaak ontwikkel vir die Meksikaanse kos!

Ongelukkig het die naweek weer verby gevlieg en moes ons die pad terug vat Dallas toe. Net buite Houston was daar toe 'n ongeluk en ons het omtrent vir 2 ure aan 30 myl gery. Dit was baie frustrerend!

Ons het Sondagaand by die huis gekom, en sien nou uit na ons volgende naweek wat Las Vegas is. Sal julle later daarvan vertel.

Monday, April 10, 2006

Austin en San Antonio

Ons was hierdie naweek Austin en San Antonio toe hier in Texas. Jammer as ek julle partykeer bietjie verveel met die agtergrond / geskiedenis. Ek skryf dit sommer vir myself ook om te onthou. Daar is so baie nuwe goed, dat mens die helfte baie vinnig vergeet! Ek sit ook links by vir die mense wat op die internet lees as julle meer wil gaan oplees oor die goed.

Ons naweek het begin met 'n nuwe kar. Met die huurkontrak wat Jana het by die karplek, kan ons karre gaan omruil van tyd tot tyd. Al het ons nou al die Taurus gewoond geraak het ons besluit dis tyd vir iets anders. Ons kry toe 'n Pontiac Grand Prix. Baie lekker kar. Hy ry vir my baie lekkerder as die Taurus en is ook bietjie meer "sporty". In tipiese "Bigger and Better Texas" styl, is die kar 'n allemintige 3.8L V6!

Ons vat toe die pad Austin toe, waar ons vir Adele sou ontmoet. Dit is die meisie van Bloemfontein wat ons hier in Dalls ontmoet het. Austin is so 195 myl van Dallas af. Die pad was heel goed. 'n Twee baan highway met party plekke 3 tot 4 bane. Van dit wat ek nou al gesien het, is baie van die highways hier om Dallas sement paaie, dan word dit teer as jy 'n hele ent uit die stad is.
Die omgewing is redelik plat en baie groen. As jy van Dallas na Austin ry, lyk dit omtrent soos die pad tussen Kroonstad en Bloemfontein. Miskien net nog bietjie groener (en minder tolhekke!).

Ons het vinnig oorgestop by die "Texas Ranger Museum" in Waco. Net om uit te vind dat hulle klaar toe was. Ons het dit ongelukkig met so paar minute gemis. Ons het maar net 'n paar fototjies daar geneem.

Ons het omtrent so 7 uur in Austin (die hoofstad van Texas) aangekom en sommer dadelik gery na die "Congress Avenue Bridge". Hierdie brug is teenaan die middestad en is die huis van die grootste stedelike vlermuis kolonie in die wereld. Hulle praat van 1.5 miljoen "Mexican free-tailed bats". Die vlermuise vlieg so teen skemer daar rond. Ons kon hulle mooi sien (en ruik!), maar dit was al bietjie donker om dit mooi te kon afneem.
As daar 'n brug is, moet daar seker water wees? Ja - Austin is op die Colorado rivier. Rondom Austin is daar 3 mensgemaakte mere: "Town Lake, Lake Austin en Lake Walter E. Long".
Na die vlermuise het ons sommer besluit om met Congress Laan deur die middestad, op te stap na die "State Capitol" toe. Dit is die staatsgebou, waar al die regerings amptenare se kantore is en waar hulle vergaderings hou. Ek weet nie eintlik waarmee om dit te vergelyk in SA nie. Iets soos die parlements gebou, en/of uniegebou. Die verskil is net dat elke staat sy eie hoofstad het en daar is so "State Capitol" gebou in elke staat. Die gebou is baie mooi en ons kon 'n paar aand-fotos daar neem. Die middestad van Austin is 'n baie lewendige plek so op 'n Vrydagaand. Mens voel glad nie onveilig nie en dit lyk of daar baie gewilde uitgaan plekke vir die mense is. Nogal 'n snaakse idee vir my dat mense na die middestad uitgaan! Ons het ook die eerste kar in Texas gesien met horings op die bonnet!
Na die lang stappie het ons by 'n Meksikaanse restaurant naby die hotel gaan eet.

Die Saterdagoggend was ek en Jana weer Austin middestad toe. Ons wou die State Capitol in die dag sien en bietjie aan die binnekant rondloop. Die tuin en alles daar is baie mooi, of ten minste so het 'n bruid ook gedink wat bietjie daar foto's kom neem het. Ons doen toe sommer 'n toer deur die gebou met 'n toergids en alles. Dit was regtig interessant. Die mense wat die gebou vir hulle gebou het in 1885, is betaal met 'n groot stuk grond in Texas (3 miljoen acres). Hulle het tot 150,000 beeste op daardie stuk grond aangehou.
Die gebou het later te klein geraak vir al die staatsamptenare, en in die 1990's het hulle 'n groot stuk bygesit. Om nie aan die oorspronklike gebou te verander nie, is die nuwe deel eintlik ondergronds.
Ons was ook in die vertrekke waar hulle vergaderings hou. Hulle doen baie moeite om die geskiedenis te bewaar, en selfs die tafels waarby die mense sit is nog die oorspronklikes. Hulle is ook baie trots op Texas en sy geskiedenis. Ons het orals die "lone star" gesien. Dit is op die ligte, pilare en selfs deur skaniere.

Austin het ook die "Bob Bullock Texas State History Museum". Ons het gou daar 'n draai gaan maak. Die museum is 3 vloere en het verskriklik baie geskiedenis van Texas in. Dit was eintlik bietjie te veel vir ons en kon nie regtig aandag aan alles gee nie. Mens sal omtrent 'n hele dag daar kan spandeer. Daar was goed oor al die oorloe in Texas se geskiedens. Daarvan het hulle baie gehad, want lyk my almal wou hier bly. Hier was Franse, Duitsers, Spanjaarde en Meksikane. Daar was ook baie goed oor die tegnologie en landbou in Texas. Die olie, beeste, bosbou, rys(!), ens.

Mount Bonnell (ook bekend as Covert Park) is gelee teenaan "Lake Austin" aan die kant van Austin. Dit is die hoogste punt in Austin en mens kry 'n mooi uitsig oor die mere en die middestad. Ons het die 99 trappies aangedurf tot bo en 'n paar fotos geneem.

Daarna was ons weer op die pad na San Antonio. Dit is omtrent net so 80 myl van Austin af. Net voor San Antonio het ons eers by Gruene oorgestop. Dit is 'n klein dorpie wat intussen 'n baie groot toeriste plekkie geword het. Die naam word "green" uitgespreek. Die dorpie is op die Guadalupe rivier en is die huis van die "Gruene Hall". Die oudste dans saal in Texas (gebou in die 1880's). Die saaltjie is nog daar en dit lyk of mens lekker sal kan kuier! Ons het 'n paar fotos geneem, aandenkings gekoop en toe tot in San Antonio gery.

Die Sondagoggend was ons na San Antonio middestad. Meeste van die besienswaardighede is naby mekaar. Die stad is baie uitgebrei en groot, alhoewel die middestad self nie baie groot is nie. Die bekendste ding om te sien in San Antonio is die Alamo. Pary mense noem San Antonio ook sommer die "Alamo city". Die Alamo is 'n gebou waar Texans 'n geveg van 13 dae gehad het teen die Meksikane tydens die Texas Revolusie in 1836 (Battle of the Alamo). Die plekkie bestaan uit 'n kerkie en geboutjies in die vorm van 'n fort. Dit is baie mooi binne, maar daar was regtig baie toeriste. Dit vat eintlik so bietjie die gevoel van die geskiedenis weg. Dit is verniet om in te gaan en persoonlik dink ek hulle moet bietjie geld vra, dan sal dit miskien nie so "crowded" wees nie!
Ons het ook 'n IMAX fliek gekyk oor die geskiedenis van die Alamo.

Die San Antonio rivier loop deur die stad en hulle het 'n paar kanale in die middestad self. Mens kan rondloop langs die kanale onder straatvlak. Daar is honderde eetplekkies en hotelle. Dit staan bekend as die "Riverwalk", of "Paseo del Rio". Ons het bietjie rondgeloop, en sommer met 'n bootjie op die kanaal rongery terwyl 'n toergids ons bietjie van die omgewing en geskiendenis vertel het.
Ons het lekker "Ben and Jerry's" roomys geeet en toe die lang pad terug Dallas toe aangepak.
Ons was Sondagaand so 8 uur terug in Dallas na 'n baie lekker naweek!

Friday, April 07, 2006

Basketball en Kaaskoek

Ons het Dinsdagaand vir die eerste keer basketball gaan kyk. Dit was ook in die American Airlines Center. Die Dallas Mavericks het gespeel teen die Sacramento Kings in die NBA (National Basketball Association). Die Mavericks het 127 - 101 gewen. Dit was regtig baie lekker om te kyk en ek moet se^: daai ouens is baie lank, en baie goed! Die hele atmosfeer is net baie lekker in die stadion.
Die langste ou in die Mavericks span is 7 voet, 5 duim! Daar is ook een ou in die Mavericks span wat van Duitsland af kom. Sy naam is Dirk Nowitzki. Hy is baie goed, en het al amper soos die "icon" van die Mavs geword. Dit is vir ons baie snaaks om so baie "Dirk" goed te sien, aangesien ons natuurlik ook 'n baie beroemde Dirk ken ;-) So Dirk, jy sal met ope arms hier in Dallas verwelkom word as jy kom. Geen Texan gaan 'n probleem he^ om jou naam uit te spreek nie (aanvaar net 'n meer ronde, binnes-mondse "R"), en jou pad na die NBA is oop!


Ons het intussen weer 'n paar klere winkels besoek. Jana het die gawe om hierdie tipe winkels uit te snuffel waar mens goeie waarde vir geld kry. Soos ek al voorheen gese^ het, baie van die klere is maar redelik duur, maar jy kry tog die bargains. Jana het ook vir haar 'n nuwe paar tekkies by die Nike factory store aangeskaf.

Ons was Donderdagaand na die Cheesecake factory. Dit is 'n restaurant in Amerika wat baie bekend is vir hulle kaaskoek. Ons was nie baie honger nie en het eintlik net gegaan vir die kaaskoek. Ons het 'n pizza gedeel, net om darem nie te lyk asof ons nog nooit so baie kaaskoek in een plek gesien het nie! Hulle het 'n skamele 36 verskillende soorte kaaskoek waaruit jy kan kies! Ons het die "Toblerone Swiss Almond Cheesecake" gedeel en dit was uit die boonste gestoeltes soos oom Oubaas sal se^! Ons het besluit mens kan nie te gereeld soontoe gaan nie, anders gaan jy naderhand nie meer deur die deure pas nie!

Ons beplan om hierdie naweek Austin en San Antonio toe te gaan. Sal julle na die naweek vertel hoe dit was.

Monday, April 03, 2006

Naweek in Dallas met Christian

Een van die geboue wat redelik prominent in die Dallas skyline is, is die Reunion Tower. Ons het besluit om Vrydagaand daar 'n draai te maak en sommer in die omgewing ietsie te gaan eet (hopelik 'n goeie Texas steak). Eers het ons gesukkel om by die regte parkering uit te kom vir die gebou en betaal toe 'n goeie $10 vir parkering, net om agter te kom dat dit nie eintlik die regte plek was nie. Dit het ons darem nie afgesit nie en ons het sommer gestap na die toring. Die toring het het so bal aan die bokant waarin daar 3 vloere is: 'n "observation deck", "cocktail bar" en restaurant. Die toring is so 500 voet (+- 50 verdiepings). Die Reunion Tower is so bietjie langs die stad, en is glad nie die hoogste gebou nie. Die hoogste gebou is die "Bank of America Plaza". Dit is 921 voet.. wonder of ons daar kan opgaan?
Ons wou eers net na die observation deck van die Reunion Tower gaan, maar word toe vertel dat daar een of ander "rehearsal" is vir 'n troue of iets. So ons besluit toe om maar eers iets te gaan eet en later terug te kom.

Ongelukkig het al die mense in Dallas toe dieselfde idee as ons gehad om goeie steak op 'n Vrydagaand te eet, so al die plekkies was baie vol. Ons het toe by 'n Meksikaanse restaurant daar naby geeet. Meksikaanse restaurante is nou een ding waaraan jy nie 'n tekort hier gaan kry nie! Die kos was baie lekker en ons het lekker gekuier.

Terug na die Reunion Tower en aangesien ons teen hierdie tyd die omgewing beter ken het ons by die regte parkering uitgekom. Net sodat die sekuriteitswag vir ons kan se^ dat die "rehearsal" nog nie klaar is nie en sy dink nie hulle gaan die observation deck oopmaak vir die aand nie. Ons besluit toe om na die "cocktail bar" te gaan. Die hele vloer draai in die rondte en dit vat so 50 minute vir een omwenteling. Dan kry mens 'n goeie idee van hoe die stad lyk. Dit het maar bietjie moeilik gegaan om fotos deur die venster te neem in die aand, so ons sal dalk weer terug gaan in die dag as ons tyd kry.

Saterdagoggend was ons sak en pak Dallas dieretuin toe. Hulle is besig om allerhande nuwe goed aan te bou by party plekke, so daar was stukke waar geen diere was nie. Ons het paar mooi diere gesien en kans gehad om goeie fotos te neem. Miskien is ons dieretuin-standaarde bietjie hoog, maar die Dallas dieretuin was nou nie juis "wow" nie. Nie dat daar regtig fout was nie, maar ook nie regtig iets besonders nie. Tot my spyt was daar geen Armadillos nie. Dit is sulke snaakse diertjies wat hier in Texas voorkom, maar soos dit vir my klink is dit eintlik 'n plaag hier. So al is dit vir my snaaks gaan hulle dit nie noodwendig in 'n dieretuin aanhou nie! Ek sal maar nog op die uitkyk wees.

Saterdagaand het ons gaan fliek kyk by 'n teater hier naby wat 14 movies het (die AMC theatre). Ons het eers "Ice Age 2" gekyk en toe sommer daarna "V for Vendetta". Dit was regtig 2 ekstreme, maar ons het dit baie geniet. Net soos die dieretuin, dink ek nie Suid-Afrikaanse fliek-plekke hoef 'n tree terug te staan nie!

Saterdagnag was toe die begin van hulle "daylight savings time" (DST). Dit is wanneer meeste van die noordelike halfrond hulle tyd een uur aandraai sodat hulle dag beter inpas met die sonlig. Hier in Amerika gebeur dit die 2de April om 02:00 die oggend. So teoreties moet jy jou horlosie aanskuif na 03:00, sodra dit 02:00 geword het. Al was ons na die flieks naby aan hierdie tye, het ons sommer ons horlosies 'n uur aangedraai voor ons gaan slaap het. So ons moes toe die oggend bietjie later slaap, want ons aand het toe sommer net so een uur korter geword! Die daylight savings time hou eers erens in Oktober op, so ons gaan vir die res van die tyd wat ons hier is in DST wees. Dan is ons in Dallas net 7 ure agter SA, en nie meer 8 nie.

Kom ons maak dit dan maar DST se skuld, maar ons het Sondagoggend lekker laat geslaap. Daarna weer ons gereelde draai by Best Buy gemaak, waar ek vir my 'n klein hardeskyf gekoop het wat ek kan gebruik vir ekstra stoorplek, aangesien my laptop se hardeskyf redelik vol raak.
Ons was toe Galleria mall toe waar ons bietjie rondgeloop en ietsie geeet het. Ons het sommer daarvandaan lughawe toe gery om vir Christian te gaan aflaai. Hy is toe weer terug Vancouver toe.

'n Lekker, rustige naweek hier in Dallas saam met iemand van die familie! Tot 'n volgende keer.