Jouberts in Dallas

Monday, May 01, 2006

Cowboy naweek

Ons het laasweek een aand gaan uiteet saam met iemand wat saam met Jana werk. Daar was 'n paar van sy vriende ook daar. Dit was interessant om bietjie met Amerikaners te kuier wat darem ook bietjie verder as net Amerika kyk. Die een ou is ook in die rekenaar bedryf en werk partykeer met mense in Kaapstad. Hy se^ die feit dat baie Amerikaners so snaakse idee van Afrika en Suid-Afrika het, is net "American ignorance". Hy se^ dis maar hoe baie mense hier is.
Ons het voorheen gesien dat mense by 'n hokkie-game grondboontjies geeet het, waar hulle self die grondboontjies uit die doppe haal, en dan die doppe sommer net so op die grond gooi. As hulle klaar is dan lyk dit asof daar 7 Amerikaanse hamsters vir 'n week onder hulle stoele gebly het! Dit was vir my nogal snaaks en ek het gedink hulle is net morsige mense, maar nou die aand by die pub-tipe plek waar ons gaan uiteet het, het ek gesien almal doen dit so. Jy sal uit voel as jy nie jou grondboontjie doppe sommer so op die grond rond strooi nie.

Vrydagaand was ek en Jana by "Billy Bob's Texas". Dit is 'n regte Cowboy uitgaan plek in Fort Worth (+- 40 myl van Dallas), of soos ek al gehoor het, 'n "honky tonk". Hulle het live country / cowboy tipe sangers en daar is 'n lekker gees in die plek. Dit is baie groot, en het 'n dansplek, eet plekkies, bars, dobbel masjiene (cowboy Las Vegas!), pool tafels en ook 'n klein arena waar hulle bull-riding doen. Ek en Jana het 'n foto van ons laat neem op so standbeeld bul tipe ding. Ons lyk soos regte Cowboys! Ek het ook "fried Catfish" gehad om te eet. Mmmm, lekker baber. Al het ek al 'n baber of twee in my lewe gevang en gesien, het ek dit nog nooit geeet nie. Dit was lekker, maar het so bietjie na modder geproe! Ek weet nie of Billy Bob's maar net dalk die modder-weergawe verkoop nie.

Die mense wat in Billy Bob's uithang lyk soos regte cowboys. Party ouens vat dit regtig ver. Jy sien die groot snorre, hoede, belt buckles, boots (tot met spurs en al!). Ek en Jana het so bietjie uit gevoel en het nie te laat gebly nie. Genoeg vir 'n eerste honky tonk ondervinding.

Saterdagaand was ons "Mesquite Championship Rodeo" toe. Mesquite is soos 'n voorstad van Dallas en hulle het 'n arena waar hulle allerhande rodeo goed doen. Dit was vir ons regtig lekker en nogal opwindend. Ek moet se^ die ouens wat aan al daai goed deelneem is regtig goed. Die perde is net so goed geleer. Met die een ding laat hulle bv. 'n kalf hardloop, dan vang die cowboy die kalf met daai toue van hulle, spring van sy perd af en bind die kalf se voete almal vas. Dit alles in 'n kwessie van 10 - 15 sekondes!

Hulle het baie verskillende goed wat hulle doen en ek gaan nie eers probeer om alles te vertaal nie. Ons het die volgende gesien:
  1. Bull Riding - Ry op baie wilde bulle wat blykbaar nie van mense bo-op hulle hou nie.
  2. Team Roping - 'n Jong kalf hardloop, dan vang een cowboy hom met 'n tou om sy nek en 'n ander cowboy om sy voete.
  3. Mutton Bustin' - Jong kinders (onder 6) kyk hoe lank hulle op 'n skaap kan ry.
  4. Steer Wrestling - 'n Cowboy jaag 'n kalf (met mooi, skerp horings), spring dan van sy perd af en druk die kalf vas op die grond met sy horings in die grond.
  5. Bareback Bronc Riding - Ry 'n wille perd sonder 'n saal.
  6. Chuck Wagon Race - Cowgirls wat 'n resies hou met sulke klein waentjies wat gesleep word deur so 6 perde.
  7. Kids Calf Scramble - Al die kinders onder 8 hardloop agter 2 jong kalwers aan.
  8. Cowboy Poker - 4 Cowboys sit op sulke plastiek stoele in die middel van die arena, dan laat hulle 'n wille bul los en kyk watter cowboy kan die langste bly sit. Na die tyd is al die plastiek stoele omtrent gebreek!
  9. Saddle Bronc Riding - Ry op wilde perde met 'n saal.
  10. Tie-down Roping - Een cowboy jaag 'n kalf, vang hom met sy tou om die nek, spring dan af en maak al sy voete vas met 'n ander tou.
  11. Cowgirls Barrell Race - Cowgirls jaag met 'n perd om 'n paar dromme wat hulle uitpak. Die een wat dit die vinnigste kan doen wen.


In een van die items (Bareback Bronc Riding), ry die cowboy op 'n wille perd sonder 'n saal. Soos julle kan dink, gooi die perd die ou behoorlik rond. Een van die ouens het 'n baie wilde perd gehad. Die perd het eers die ou afgegooi, en toe so wild gespring dat hy self so hard op sy nek geval het. Ek het dadelik gesien die perd lyk nie lekker nie. Hy het net bly le^ en die cowboys het hom vinnig vasgemaak en op so draagbaar ding uit die arena gesleep. Hulle het afgekondig dat hulle sal laat weet hoe dit met die perd gaan sodra die veearts na hom gekyk het, maar ons het niks gehoor die res van die aand nie. Ek hoop maar die perd is oraait.

Sondag was ons South Fork Ranch toe. Dit is die plek net hier buite Dallas waar die Dallas sepie afgespeel het. Nie ek of Jana het eintlik die sepie gekyk toe dit in SA gewys het nie, so ek dink nie dit het so baie vir ons beteken soos wat dit vir gereelde kykers sou nie. Ons het dit nogsteeds geniet en het 'n toer van die Ewings huis gedoen en alles. Hulle het ons vertel dat net die "buite scenes" van die sepie eintlik op die ranch geskiet is. Die binneshuise tonele is eintlik op 'n ander stel geskiet in California. Die stel in California is gemaak om by die huis te pas, maar mense wat die storie baie gekyk het sou lyk my kon sien dat dit nie dieselfde huis is nie.
Hulle boer nie regtig op die ranch nie en dit word deesdae net gebruik vir troues en funksies en natuurlik vir toeriste soos ons!
Op die ranch self het hulle vlagpale met vlae van die lande wat die Dallas sepie gewys het. Daar was in totaal 96 lande wat dit gekyk het (kan julle dit glo!). Hulle het nou nie 96 vlagpale nie, maar roteer die vlae elke paar dae. Gelukkig toe ons daar was het die SA vlag mooi in die wind gewapper!
Hulle beplan lyk my 'n Dallas fliek (moontlik met John Travolta as JR Ewing), en hulle hoop dat dit op die South Fork Ranch self geskiet sal word.

Net toe ons by die South Fork Ranch inry, sien ons 'n ander kar wat ook daar stop, wat 'n SA vlag dingetjie aan die spieeltjie het. Jana neem toe die vrymoedigheid om oor te stap en bietjie uit te vra. Dit is toe mense wat oorspronklik van Durban af kom, maar al so iets soos 20 jaar in Dallas bly. Darem 'n klein wereldjie ne^? (nog een van daai!)

Hierdie was eintlik ons laaste naweek in Dallas self, aangesien ons van nou af elke naweek in 'n ander stad gaan wees volgens ons toer planne. Sal julle op hoogte hou.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home