Jouberts in Dallas

Saturday, May 20, 2006

JavaOne 2006

Ek het hierdie week (Dinsdag tot Vrydag) 'n konferensie bygewoon hier in San Francisco vir die programmeer taal waarmee ek die meeste van my tyd deurbring, naamlik Java. Ek sal julle nie verveel met al die detail hier nie. Ek beplan om van al die tegniese goed wat ek gesien en gehoor het, op my ander blog te skryf (sodra ek tyd kry!).

Die konferensie was by die Moscone Center hier in San Francisco en ek het in 'n hotel daar naby gebly. 'n Goeie 15 000 mense het die konferensie bygewoon, so dit was sekerlik die grootste konferensie waarby ek nog was. Daar was honderde sessies waaruit mens kon kies en dan woon jy maar die by waarin jy belang stel. Een van die probleme is dat dit baie keer moeilik was om te kies aangesien ek soveel as moontlik wou inpas.

Die sessies was gewoonlik een uur lank met 15 minute tussen sessies (net genoeg om van die een lokaal na die ander te stap). Dit het elke oggend 8:30 begin en ek het elke aand 11:30 eers klaar gemaak! So dit was baie vol dae, met amper nie eers tyd vir eet nie. Eet is vir mense wat baie die geleentheid kry om na sulke goed te gaan!

Ek het die konferensie baie geniet en het baie goed geleer. Dit was ook lekker om vir 'n slag gesigte te kan koppel aan van die groot name in die bedryf waarvan ek gewoonlik net lees.

Ek het hierdie week ook agter gekom dat die weer wat ons die vorige naweek in San Francisco gehad het baie abnormaal was. Hierdie hele week was dit baie koud en die heeltyd mistig. Dit het vanmiddag sommer bietjie gereen. So al die mense wat gese^ het San Francisco is gewoonlik koud, was toe reg. Ek het in die aande terug gestap hotel toe en kon so bietjie meer sien van die middestad in die nag. Die deel tussen die konferensie sentrum en my hotel is nou nie juis die beste deel van die stad nie, maar dit gee mens 'n goeie idee van 'n plek as jy dit ook kan sien. Daar is baie mense wat op die strate bly en geld bedel. Sonder dat ek goeie rede gehad het, het ek maar bietjie onveilig gevoel. Die een middag toe ek verby 'n winkel stap het 'n sekuriteitswag iemand in die straat gevang wat iets uit 'n winkel gesteel het. Hulle het sommer daar in die middel van die pad gestoei (amper gelyk soos 'n movie!). Dit het my maar net weer laat besef dat daardie tipe goed enige plek in die wereld kan gebeur.

Donderdagaand was daar 'n partytjie by die konferensie. Dit word ook in een van die groot sale gehou en daar is allerhande goed om die mense besig te hou. Hierdie jaar se tema het baie met wetenskap te doen gehad en daar was allerhande eksperimente en goed waarna mens kon kyk. Die 2 ouens van "Mythbusters" was ook daar gewees. Dit was nogal lekker, maar ek het net 'n rukkie gebly voordat ek weer terug gegaan het na ander konferensie sessies.

Ek is nou oppad terug Dallas toe en kan amper maar op die lughawe daar slaap, want ons gaan more-oggend baie vroeg New York toe! Ek sal maar 'n draai by die huis maak om my klere te was.. So wanneer julle weer van my hoor, sal dit sekerlik meer nuus oor NY wees.

Lekker naweek!

Tuesday, May 16, 2006

San Francisco

Hierdie weergawe van die blog is so bietjie laat. Ek was hierdie week by 'n konferensie in San Francisco en het bietjie gesukkel om die blog op die internet te kry. Dit moes eintlik al bietjie vroeer die lig gesien het, so lees dit maar asof dit Maandag 15 Mei is!

Die naweek wat verby is, was ons San Francisco naweek. Ek het vir Jana by haar werk gaan oplaai Vrydag middag en ons is daarvandaan na die lughawe. Dit was die eerste keer wat ons met American Airlines gevlieg het en aangesien hulle die grootste lugreedery by die Dallas Fort Worth lughawe is, vlieg hulle van 3 van die 6 terminale af. Ons was omtrent rond gejaag tussen die terminale want net voordat die vliegtuig moes vertrek laat weet hulle ons dat die boarding plek geskuif het na 'n ander hek in 'n ander terminaal. Die lughawe het darem goeie publieke vervoer en soos met al die ander nuwe goed wat ons hier leer: "As jy MOET regkom, dan kom jy maar reg op 'n manier!"

San Francisco is op "Pacific Time", wat 2 ure agter Dallas is, so al was die vlug amper 4 ure, het ons net 2 ure verloor. Op die San Francisco lughawe het ons 'n shuttle gevat wat ons by ons hotel in die middestad gaan aflaai het. Die bestuurder van die shuttle het ons al 'n goeie idee gegee van hoe dinge nou eintlik in San Francisco se strate werk.. by ons sou ek hom bietjie van 'n padvark genoem het!
Die hotel waarin ons gebly het was 'n baie ou hotel, maar darem netjies en skoon.

Ons het voor die tyd al 'n toer geboek vir die Saterdag en was vroeg op om vir die toerbus te wag. Ons het mense by nog 'n paar ander hotelle opgelaai en het toe begin met 'n toer van die stad. Ons het in 'n baie luukse bus gery en dit was lekker om so baie van die stad so vinnig te sien. Die toerbusse maak dit partykeer net moeilik om fotos te neem, aangesien jy net by party plekke stop. Dit is seker maar wat jy opgee as jy baie van die stad vinnig wil sien.
Met die busrit deur die stad kon ons vinnig 'n idee kry van hoe die middestad self is. Die straatjies is redelik nou, met baie taxis, karre wat toeters druk en vinnig parkeer - heeltemal te besig vir ons om self daar te bestuur! Die strate in San Francisco is ook baie steil. Heuwels het hulle glad nie afgesit toe hulle besluit het om die hele plek toe te bou nie. San Francisco is nie regtig op 'n eiland nie, aangesien die suidekant vas is aan die vasteland, maar mens kry omtrent die idee van 'n eiland, aangesien die San Francisco baai omtrent die hele stad omring. Dit maak dat spasie nogal 'n probleem is, en mens sien dit orals as jy net na die geboue en verkeer kyk.

Ons het heel eerste oor die Golden Gate brug gery. Dit is die heel bekendste brug in San Francisco en skei die see (Pacific Ocean) van die San Francisco baai. Die brug is omtrent 1.7 myl lank en dit het nogal snaaks gevoel om oor so bekende landmerk te ry wat mens net in flieks sien.
Aan die anderkant van die Golden Gate brug het ons gestop vir 'n paar fotos en kon darem bietjie daar rondloop. 'n Paar mense het ons voor die tyd gewaarsku dat San Francisco snaakse weer het, en omtrent altyd koud is (selfs in die somer). Ons kon regtig daarvan getuig met die yskoue wind wat gewaai het.




Na die Golden Gate brug is ons na Ocean Beach. Dit was die enigste stukkie see en strand wat ons gesien het. Dit is nogal 'n lekker bree en mooi strand. Daarna het ons deur Golden Gate Park gery. Dit is 'n publieke park met baie mooi besienswaardighede en goed vir die mense om te doen. Dit lyk baie rustig en mense ry fiets, draf, hou piekniek, braai of ontspan sommer net lekker. Die park is baie groot (4.1 km2) met 'n paar dammetjies (of "lakes" soos hulle dit sal noem). Die een is lyk my nogal bekend vir klein afstand beheerde motor bootjies. Ons het 'n baie vinnige een gesien toe ons daar verby ry en die mense hou lyk my baie kompetisies daar.
Ons het gestop tussen 'n "Japanese Tea Garden" en die "de Young Museum" binne Golden Gate Park. Ons het nie regtig baie tyd gehad nie en moes kies watter een van die twee ons gaan sien. Ons kies toe die museum, want mens kan met 'n hysbak opgaan en 'n mooi uitsig oor die park kry.

Ons het daarna na "Twin Peaks" gery. Dit is twee heuwels net buite die stad wat mens 'n baie mooi uitsig oor die middestad gee. Die wind was baie koud en het baie sterk gewaai. Ons het net 'n vinnige paar fotos geneem voor ons verder gery het. Die stad is lyk my baie mistig en mens kon dit van Twin Peaks af sien.

Daarna het die groot toerbus die klein, steil straatjies van dele van San Francisco se woonbuurte aangepak. Die huisies lyk soos vuurhoutjie boksies maar het volgens die bus bestuurder nie pryse gelykstaande aan vuurhoutjie boksies nie. Afhangende van die buurt, kan jy verwag om enige iets van so $300 000 tot 'n paar miljoen dollar te betaal. Die gemiddelde huis prys in San Francisco is lyk my so $700 000!
Ons het daarna by die stadsaal gestop. Dit is 'n baie mooi gebou en die uitleg het mens kans gegee om bietjie asem te haal tussen die beknopte huisies! Die stadsaal het kenmerkende goue insetsels teen die kante en pilare.
Die bus het ons toe deur Chinatown gevat. Dit is 'n paar blokke in die middestad wat omtrent 'n China op sy eie is. Dit is hoe ek nog altyd die oosterse stede voorgestel het en ek is seker as jy nie geweet het jy is in San Francisco middestad nie, sou jy gedink het jy is in China!
Teenaan Chinatown is 'n gebied wat North Beach genoem word. Dit het weer 'n deel wat 'n baie sterk Italiaanse invloed het. Die strate is vol Italiaanse restaurante en lyk weer heeltemal anders as Chinatown. Die een Italiaanse restaurant wat ons gesien het se naam is "The Stinking Rose". Volgens die bus bestuurder spesialiseer hulle in knoffel geregte, met selfs 'n knoffel roomys op die spyskaart!
Net deur te kyk na die twee buurte langs mekaar kry mens 'n goeie idee van die verskeidenheid mense wat in San Francisco bly. Die getal oosterse mense het lyk my so paar jaar gelede die westerse mense in San Francisco verby gesteek!

Die bus het ons toe naby aan Lombard straat verby gevat. 'n Deel van die straat word "The Worlds Crookedest Street" genoem. Die straatjie kronkel verskriklik teen die heuwel af en is omtrent iets om te sien.

Die bus het ons toe naby "Fisherman's Wharf" afgelaai, wat soos 'n "Waterfront" is. Daar het ons ons kaartjies gekry vir ons Alcatraz toer. Ons is met 'n ferry oor na die Alcatraz eiland, wat net so entjie vanaf die San Francisco vasteland is. Alcatraz ("The Rock") is natuurlik bekend vir die hoe sekuriteit tronk wat daar was. Dit is nou 'n nasionale park, maar die tronk en ander geboue is nogsteeds op die eiland.
Ek kon nie glo hoe baie toeriste na Alcatraz stroom nie. Dit moet sekerlik een van die plekke in die wereld wees waarby die mense die graagste wil uitkom. Ons kon op ons eie tyd op die eiland rondloop en die natuurskoon bewonder. Ons is toe na die tronk, waar jy 'n "audio tour" doen. Jy kry oorfone en stap dan deur die hele tronk waar mense wat regtig in die tronk gewerk of gebly het jou van alles vertel. Dit was regtig 'n belewenis en mens kry amper hoendervleis as jy in die selle rondloop en hoor wat alles daar gebeur het.

Die stad en Alcatraz toer het ons amper die hele dag besig gehou en ons het een van die bekende "Cable Cars" in San Francisco gevat om terug te kom by ons hotel. Ek weet nogsteeds nie hoekom dit Cable Cars genoem word nie, want dit is 'n treintjie / trolley-tipe ding wat op 'n spoor loop in party van die strate. Die treintjie beweeg nie baie vinnig nie en van die mense hang sommer so teen die kante van die treintjie.

Ons word toe die Sondagoggend 5:30 wakker van 'n alarm in die hotel wat baie geraas maak. Dis toe die brand alarm, en soos goeie inwoners betaam, gryp ons toe net 'n paar goedjies en gaan met die brand trappe af, waar 'n klomp van die ander (baie-deur-die-slaap) mense klaar gewag het. Dit was toe al die tyd net 'n vals alarm. Daar was iets fout met die warm water pype wat die alarm laat afgaan het - nie 'n lekker manier om wakker te word nie!

Ek en Jana het toe Sondag deur Chinatown en paar van sy winkeltjies gestap. As ek dit in een woord moet opsom, is dit "beknop"! Ons het ook gestap na "Coit Tower". Dit is 'n toring in die vorm van 'n brandweerslang se kop, gebou op 'n koppie met die naam "Telegraph Hill".
Daarna is ons weer na Fisherman's Wharf, waar ons op "Pier 39" rondgeloop het. Daar is baie winkeltjies, restaurante en 'n klomp seeleeus wat in die hawe rondle.
Ons het vir ons ferry kaartjies gekoop en oorgegaan na Sausalito. Dit is 'n klein dorpie, net buite San Francisco, waarby jy ook kan uitkom as jy oor die Golden Gate brug ry. Die dorpie is 'n groot toeriste aantreklikheid met baie kuns galerye en klein restaurantjies.
Toe ons eers terug was by Fisherman's Wharf het ons aan die baai se kant afgestap tot naby ons hotel. Ons kon toe naby die ander groot brug in San Francisco kom, wat die "San Francisco Oakland Bay Bridge" genoem word. Dis 'n baie lang brug wat, soos julle geraai het, San Francisco verbind aan Oakland. Alhoewel die brug ook groot en indrukwekkend is, het dit nie dieselfde toeriste aantrekking as die Golden Gate brug nie.

Ons was eers hotel toe, het later die aand weer in die stad rondgeloop en by een van die Italiaanse restaurantjies in North Beach gaan eet. Al wat ek kan se^ toe ons gaan slaap het was dat ons voete baie seer was na 'n dag se baie stap!

Maandagoggend het ons sommer sak en pak gestap na 'n ander hotel in San Francisco waar ek gaan bly vir die res van die week wat ek hier is vir my Java konferensie. Nadat ek ingeboek het, het ons gestap na Union Square hier naby in die stad. Rondom Union Square is daar baie bekende en duur ontwerpers-naam winkels. Ons het daar rondgeloop in 'n baie groot Levi's winkel, asook 'n groot Nike winkel. Ons het gaan kaaskoek eet by die "Cheesecake Factory", wat bo in dieselfde gebou is as 'n baie groot Macy's winkel.
Jana is toe weer met 'n shuttle terug lughawe toe en ek het gaan registreer vir my konferensie hierdie week. Net van dit wat ek nou al kon sien, gaan hierdie konferensie vir my baie beteken. Ek sien baie uit na 'n besige 4 dae. Die konferensie sessies begin so 8:00 in die oggend, en hou aan tot 11:30 in die aande!

Julle sal seker weer van my hoor nader aan die einde van die week. Ek gaan Vrydag weer terug Dallas toe en dan gaan ons vir 'n vakansietjie New York toe.

Wednesday, May 10, 2006

Baseball

Aangesien ons naweke nou al so vol is, het ek sommer vir ons kaartjies gekoop vir 'n Baseball wedstryd in die week. So ons het gisteraand ons eerste baseball wedstryd gaan kyk.

Dit was die Texas Rangers teen die Minnesota Twins in die MLB (Major League Baseball). Die game was op die Ameriquest Field in Arlington (seker so 20 myl buite Dallas se middestad). Die game het so 7 uur begin, en selfs toe was dit nog baie warm. Dit was so 33C, met hoe humiditeit en so warm wind wat waai. Dit het gevoel asof ons in 'n oond is!

As twee spanne teen mekaar speel in die MLB, dan speel hulle sommer so paar games teen mekaar oor 'n paar dae. Die Minnesota Twins sal byvoorbeeld Dallas toe kom, dan speel hulle vir so 3 of 4 dae na mekaar elke dag 'n game teen mekaar. Ek ken nou nie die geskiedenis of die spanne so goed nie, maar dit lyk nie vir my asof die Texas Rangers nou juis as een van die beste spanne geklasifiseer sal word nie. Hulle het 'n goeie pak gekry (15-5).



Ons het gisteraand ook bietjie meer van die reels geleer, maar soos met die ander sporte is daar ook nog 'n plaar klein goedjies wat ek nie verstaan nie.
Mense het my al voor die tyd gewaarsku dat dit nogal vervelig kan wees om baseball te kyk, en ek kan sien hoekom. Ek dink as die score bietjie nader is, sal dit dalk nie so vervelig wees nie, maar ek moet se^ gisteraand se 3 ure game het so bietjie uitgerek geraak, veral as jy kan sien jou span gaan nie wen nie.

Baie van die balle word in die skare ingeslaan en dan hou die mense sommer die balle wat hulle vang. Ek het baie mense gesien wat sommer met daai regte baseball handskoene in die skare sit om die balle te vang.. regte sissies! Die een bal het regtig baie naby aan ons gekom. Dit was seker net so meter van ons af en toe vang die ou dit nog mis ook!

Dit was 'n lekker aand en ek dink dit kan nogal lekker wees om baseball te speel ook.
Behalwe vir die groot NFL football wat ons nie sal kan kyk nie, het ons nou al die groot sporte wat ek graag wou kyk ingeryg.

Die volgende nuus sal seker oor San Francisco wees.. lekker week!

Tuesday, May 09, 2006

Arizona

Ons het die naweek wat verby is bietjie in Arizona gaan kuier by familie van my. Die oom is een van my ouma se jonger broers. Hulle het in die vroee 90's Amerika toe getrek.

Ons het Saterdagoggend vroeg Phoenix toe gevlieg (die vlug was so bietjie langer as 2 ure) en Oom Piet en Tannie Tokkie het ons daar gekry. Hulle het 2 huise in Arizona - een in Scottsdale (wat omtrent maar deel is van Phoenix) en die ander een in Prescott. Prescott is seker so 80 myl van Phoenix af en is bietjie koeler in die somer. Met Arizona wat omtrent 'n woestyn is, maak 'n paar grade in die somer 'n groot verskil, so hulle spandeer baie tyd Prescott in die warmer tyd van die jaar.

Ons kon sommer dadelik sien nadat ons by die lughawe gery het, dat ons in 'n "wille weste" gebied is. Dit was baie warm en die omgewing lyk so iets tussen die Karoo en 'n woestyn. Daar is baie van daardie regte groot kaktusse wat mens op die Westerns flieks sien. Ons het oppad Prescott toe by 'n klein dorpie met die naam "Sedona" gestop. Sedona is 'n baie mooi plekkie in die "Verde" vallei in noord Arizona. Die dorpie het baie gallerye, kuns winkeltjies en restaurante. Dit is 'n regte toeriste dorpie met 'n baie mooi uitsig van die omgewing.

Ons het 'n entjie uit die dorpie gery na 'n kerkie (of kapel) effens op by die berg wat ook 'n baie mooi uitsig het. Daarna het ons gaan eet by 'n Meksikaanse restaurant in die dorpie (ja, Arizona weet ook van Meksikaanse kos!). Ons het daarna 'n baie klipperige grondpad aangedurf en 'n hele ent teen een van die berge uit gery. Die uitsig is asemrowend en ek kan dit amper nie met enige iets vergelyk wat ek al gesien het nie. Daar is sulke "pink jeep" toere wat jy kan doen, wat lyk my meer gewaagde paadjies aandurf teen die berg uit met 'n oop Jeep.
Sedona is ook bekend onder die "New Age" groepe, vir allerhande idees soos "energy vortexes".



Ons het vinnig gestop vir 'n lekker koppie koffie voordat ons die pad Prescott toe aangedurf het.

'n Ent uit Sedona het ons deur nog 'n baie klein dorpie met die naam "Jerome" gery. Dit was vroeer jare 'n myn dorpie (silwer en koper), maar daar gaan nie meer veel aan nie. Baie van die huisies lyk of hulle uitmekaar wil val, en die manier hoe die huisies so teen die berg gebou is help seker nie vir hulle struktuur nie!

Voor ons weer sien het ons by die huis in Prescott aangekom. Die huis is in 'n baie mooi omgewing en is baie stil. Dit is in 'n tipe van 'n golf estate, maar daar is geen heinings en dit voel vir jou asof jy alleen in die natuur bly. Daar loop wilde diertjies rond en ons het ook ons eerste Coyote in Amerika gesien. Dit is so 'n valerige wolf-tipe dier.

Ons het die aand by 'n restaurant in Prescott gaan eet en tot ons verbasing daag daar toe klomp jong mense op, wat in aandklere aangetrek was. Ons vind toe uit dat dit hulle "prom night" is. Die meisies het baie mooi rokke aangehad, regte ballroom rokke. Dit is lyk my die gewoonte by hulle om eers te gaan uiteet, en dan het die afskeid seremonie net 'n dans. Ek het darem my lekkerste stukkie steak nog op Amerikaanse bodem by daardie restaurantjie in Prescott geeet!

Die Sondagoggend het ons terug Scottsdale toe gegaan en by Oom Piet en tannie Tokkie se kinders gaan kuier. Hulle het 2 seuns wat ook in Scottsdale bly. Die oudste seun is getroud en het nou 2 kinders. Die oudste is 2 jaar oud en die jongste net 2 maande. Die oudste een het ons baie vermaak met alles wat sy by die speelgroepie leer. Ons het lekker middagete gehad en was toe later die middag weer terug lughawe toe.

Hierdie week wat voorle het ons eerste (en seker enigste) baseball wedstryd in, en volgende naweek gaan ons San Francisco toe.

Tot later.

Monday, May 01, 2006

Cowboy naweek

Ons het laasweek een aand gaan uiteet saam met iemand wat saam met Jana werk. Daar was 'n paar van sy vriende ook daar. Dit was interessant om bietjie met Amerikaners te kuier wat darem ook bietjie verder as net Amerika kyk. Die een ou is ook in die rekenaar bedryf en werk partykeer met mense in Kaapstad. Hy se^ die feit dat baie Amerikaners so snaakse idee van Afrika en Suid-Afrika het, is net "American ignorance". Hy se^ dis maar hoe baie mense hier is.
Ons het voorheen gesien dat mense by 'n hokkie-game grondboontjies geeet het, waar hulle self die grondboontjies uit die doppe haal, en dan die doppe sommer net so op die grond gooi. As hulle klaar is dan lyk dit asof daar 7 Amerikaanse hamsters vir 'n week onder hulle stoele gebly het! Dit was vir my nogal snaaks en ek het gedink hulle is net morsige mense, maar nou die aand by die pub-tipe plek waar ons gaan uiteet het, het ek gesien almal doen dit so. Jy sal uit voel as jy nie jou grondboontjie doppe sommer so op die grond rond strooi nie.

Vrydagaand was ek en Jana by "Billy Bob's Texas". Dit is 'n regte Cowboy uitgaan plek in Fort Worth (+- 40 myl van Dallas), of soos ek al gehoor het, 'n "honky tonk". Hulle het live country / cowboy tipe sangers en daar is 'n lekker gees in die plek. Dit is baie groot, en het 'n dansplek, eet plekkies, bars, dobbel masjiene (cowboy Las Vegas!), pool tafels en ook 'n klein arena waar hulle bull-riding doen. Ek en Jana het 'n foto van ons laat neem op so standbeeld bul tipe ding. Ons lyk soos regte Cowboys! Ek het ook "fried Catfish" gehad om te eet. Mmmm, lekker baber. Al het ek al 'n baber of twee in my lewe gevang en gesien, het ek dit nog nooit geeet nie. Dit was lekker, maar het so bietjie na modder geproe! Ek weet nie of Billy Bob's maar net dalk die modder-weergawe verkoop nie.

Die mense wat in Billy Bob's uithang lyk soos regte cowboys. Party ouens vat dit regtig ver. Jy sien die groot snorre, hoede, belt buckles, boots (tot met spurs en al!). Ek en Jana het so bietjie uit gevoel en het nie te laat gebly nie. Genoeg vir 'n eerste honky tonk ondervinding.

Saterdagaand was ons "Mesquite Championship Rodeo" toe. Mesquite is soos 'n voorstad van Dallas en hulle het 'n arena waar hulle allerhande rodeo goed doen. Dit was vir ons regtig lekker en nogal opwindend. Ek moet se^ die ouens wat aan al daai goed deelneem is regtig goed. Die perde is net so goed geleer. Met die een ding laat hulle bv. 'n kalf hardloop, dan vang die cowboy die kalf met daai toue van hulle, spring van sy perd af en bind die kalf se voete almal vas. Dit alles in 'n kwessie van 10 - 15 sekondes!

Hulle het baie verskillende goed wat hulle doen en ek gaan nie eers probeer om alles te vertaal nie. Ons het die volgende gesien:
  1. Bull Riding - Ry op baie wilde bulle wat blykbaar nie van mense bo-op hulle hou nie.
  2. Team Roping - 'n Jong kalf hardloop, dan vang een cowboy hom met 'n tou om sy nek en 'n ander cowboy om sy voete.
  3. Mutton Bustin' - Jong kinders (onder 6) kyk hoe lank hulle op 'n skaap kan ry.
  4. Steer Wrestling - 'n Cowboy jaag 'n kalf (met mooi, skerp horings), spring dan van sy perd af en druk die kalf vas op die grond met sy horings in die grond.
  5. Bareback Bronc Riding - Ry 'n wille perd sonder 'n saal.
  6. Chuck Wagon Race - Cowgirls wat 'n resies hou met sulke klein waentjies wat gesleep word deur so 6 perde.
  7. Kids Calf Scramble - Al die kinders onder 8 hardloop agter 2 jong kalwers aan.
  8. Cowboy Poker - 4 Cowboys sit op sulke plastiek stoele in die middel van die arena, dan laat hulle 'n wille bul los en kyk watter cowboy kan die langste bly sit. Na die tyd is al die plastiek stoele omtrent gebreek!
  9. Saddle Bronc Riding - Ry op wilde perde met 'n saal.
  10. Tie-down Roping - Een cowboy jaag 'n kalf, vang hom met sy tou om die nek, spring dan af en maak al sy voete vas met 'n ander tou.
  11. Cowgirls Barrell Race - Cowgirls jaag met 'n perd om 'n paar dromme wat hulle uitpak. Die een wat dit die vinnigste kan doen wen.


In een van die items (Bareback Bronc Riding), ry die cowboy op 'n wille perd sonder 'n saal. Soos julle kan dink, gooi die perd die ou behoorlik rond. Een van die ouens het 'n baie wilde perd gehad. Die perd het eers die ou afgegooi, en toe so wild gespring dat hy self so hard op sy nek geval het. Ek het dadelik gesien die perd lyk nie lekker nie. Hy het net bly le^ en die cowboys het hom vinnig vasgemaak en op so draagbaar ding uit die arena gesleep. Hulle het afgekondig dat hulle sal laat weet hoe dit met die perd gaan sodra die veearts na hom gekyk het, maar ons het niks gehoor die res van die aand nie. Ek hoop maar die perd is oraait.

Sondag was ons South Fork Ranch toe. Dit is die plek net hier buite Dallas waar die Dallas sepie afgespeel het. Nie ek of Jana het eintlik die sepie gekyk toe dit in SA gewys het nie, so ek dink nie dit het so baie vir ons beteken soos wat dit vir gereelde kykers sou nie. Ons het dit nogsteeds geniet en het 'n toer van die Ewings huis gedoen en alles. Hulle het ons vertel dat net die "buite scenes" van die sepie eintlik op die ranch geskiet is. Die binneshuise tonele is eintlik op 'n ander stel geskiet in California. Die stel in California is gemaak om by die huis te pas, maar mense wat die storie baie gekyk het sou lyk my kon sien dat dit nie dieselfde huis is nie.
Hulle boer nie regtig op die ranch nie en dit word deesdae net gebruik vir troues en funksies en natuurlik vir toeriste soos ons!
Op die ranch self het hulle vlagpale met vlae van die lande wat die Dallas sepie gewys het. Daar was in totaal 96 lande wat dit gekyk het (kan julle dit glo!). Hulle het nou nie 96 vlagpale nie, maar roteer die vlae elke paar dae. Gelukkig toe ons daar was het die SA vlag mooi in die wind gewapper!
Hulle beplan lyk my 'n Dallas fliek (moontlik met John Travolta as JR Ewing), en hulle hoop dat dit op die South Fork Ranch self geskiet sal word.

Net toe ons by die South Fork Ranch inry, sien ons 'n ander kar wat ook daar stop, wat 'n SA vlag dingetjie aan die spieeltjie het. Jana neem toe die vrymoedigheid om oor te stap en bietjie uit te vra. Dit is toe mense wat oorspronklik van Durban af kom, maar al so iets soos 20 jaar in Dallas bly. Darem 'n klein wereldjie ne^? (nog een van daai!)

Hierdie was eintlik ons laaste naweek in Dallas self, aangesien ons van nou af elke naweek in 'n ander stad gaan wees volgens ons toer planne. Sal julle op hoogte hou.