Jouberts in Dallas

Thursday, June 08, 2006

Washington D.C.

Laasnaweek was ons na Washington D.C - die hoofstad van Amerika.
Ons het die Vrydagaand vanaf Dallas vertrek na die Washington Dulles lughawe (nogal confusing!). Ons het redelik laat daar aangekom (en verloor ook 'n uur met die tyd zone). 'n Hotel shuttle het ons na ons hotel gevat. Die eerste een met 'n GPS wat vir hom vertel waar om te ry. Miskien ken hy nog nie Washington so goed nie, of dalk hou hy maar net van die tegnologie.

Ons het voor ons gegaan het al 'n stad-toer geboek op 'n bus. Die bus sou van Union Station vertrek, en ons het besluit om sommer soontoe te stap. 'n Mens sien baie van die stede as jy sommer net so in die straat rondloop. Dit was toe 'n goeie 15 (groterige) blokke om daar te kom! Die strate in Washington is ook baie snaaks uitgele^. Dit is meestal ook in 'n "grid" styl, maar daar is heelwat sirkels (of "roundabouts" soos hulle dit noem) en ook 'n paar skuins strate wat jou partykeer lekker deurmekaar kan maak. Jy loop nog in een straat en sonder dat dit vir jou voel dat jy afgedraai het, kom jy agter dat jy ewe skielik in die verkeerde straat is!

By die stasie het ons eers by 'n restaurantjie geeet voordat ons op die bustoer gegaan het. Washington het verskriklik baie monumente en museums en is baie ryk aan Amerikaanse geskiedenis. Op die bustoer het ons die volgende gesien:
  1. Union Station - Die groot stasie waar ons op die bus geklim het. Die stasie is baie mooi en gee amper die gevoel van die Grand Central Station in New York.
  2. US Capitol - Die staatsgebou van die hoofstad van Amerika. Ons het eers net met die bus verbygery en besluit om later weer terug te gaan soontoe.
  3. FBI Building - Die gebou waar die FBI baie van hulle kantore het.
  4. Spy Museum - 'n Museum oor espionage.
  5. Hard Rock Cafe - Die bekende bar, wat in baie stede is.
  6. White House - Die huis van die president. Dit was nie baie ver van waar ons hotel was nie en ons het besluit om ook later soontoe te stap.
  7. Lincoln, Vietnam en Korean Memorials - Verskillende memorials redelik naby aan die wit huis. Ons het besluit om die volgende dag ook by hulle rond te loop.
  8. Arlington Cemetery - 'n Baie groot begraafplaas. Dit is ook waar president Kennedy begrawe is.
  9. Washington National Cathedral - 'n Baie mooi en ou katedraal.
  10. National Zoo - Ons het net naby die dieretuin verby gery, en nie regtig veel daarvan gesien nie.
  11. Washington Monument
Ons het by die Washington Monument afgeklim en eers by die World War II memorial rondgeloop. Daar is 'n dammetjie met fonteintjies, wat omring word deur pilare vir al die Amerikaanse state wat betrokke was by die tweede wereld oorlog. Teen een van die mure is daar ook 4048 goue sterretjies. Elke sterretjie verteenwoording omtrent 100 Amerikaners wat in die oorlog dood is - 'n allemintige 400 000!
Na die wereld oorlog monument het ons geloop na die Washington Monument daar naby. Die Washington Monument is seker die bekendste toring in Washington en is 555 voet hoog. Die monument is in 1848 begin bou vir die eerste Amerikaanse president (George Washington). Vanaf die Washinton Monument kan mens die wit huis aan die noordekant sien, die wereld oorlog museum en Lincoln Memorial aan die westekant en die State Capitol aan die oostekant. Al daardie groot plekke is redelik naby mekaar in daardie omgewing.



Na die Washington Monument het ons besluit om terug te stap na die State Capitol. Op pad het ons verby baie mooi geboue gestap, waarvan die meeste omtrent museums is. Soos ek verstaan, vra die meeste van die museums in Washington nie eers toegangsgeld nie. Ons het rondom die State Capitol geloop en kon darem 'n paar fototjies inpas.
Die strate se name in Washington is uitgele^ met die State Capitol as die middelpunt. Vanaf die State Capitol, word die stad opgedeel in 4 dele (North West, North East, South West en South East). Die strate wat Noord/Suid loop is genommer vanaf 1, wat begin by die State Capitol en die Oos/Wes strate is letters van die alfabet, wat ook by die Capitol begin as A. Dis genoeg om enige ou deurmekaar te maak, want dit beteken dat daar byvoorbeeld twee 10e strate is, een wat 10 strate oos van die Capitol loop (in NE en SE), asook een wat 10 strate wes van die Capitol loop 9 in NW en SW)! Elkeen van die straat naambordjies wys darem duidelik in watter deel jy nou eintlik is.

Na die State Capitol het ons weer terug gestap Union Station toe, waar ons bietjie in winkeltjies rondgeloop het en sommer aandete ook geeet het. Ons het daarna die 15 blokke aangepak terug hotel toe en het sommer so bietjie van Washington in die aand gesien.

Die Sondag het ons weer ons stapskoene aangetrek en eers na die wit huis gestap. Ons kon paar mooi fotos neem van altwee kante. Die tuine by die wit huis is baie mooi. Daar is ook baie sekuriteit rondom die gebou en ek het nogal gewonder of oom Bush daar binne die huis was terwyl ons daar buite rondgeloop het.

Na die wit huis het ons na die Vietnam memorial gestap. Dit bestaan uit 'n lang muur waarop die name gegrafeer is van 58 000 Amerikaanse soldate wat dood is in die Vietnam oorlog. Die mure is van graniet, wat baie goed reflekteer. Dit lyk amper soos 'n spieel. Dit voel nogal snaaks om daar te loop en ons kon net dink hoe mense moet voel wat familie of vriende in daardie oorlog moes afstaan. Daar is op party plekke briefies van familie wat nogal hartroerend is.

Na die Vietnam memorial het ons na die Lincoln Memorial gestap. Dit is 'n mooi gebou, met 'n standbeeld van Abraham Lincoln wat in die middel sit op so groot stoel. Teen die mure van die gebou is die woorde van 2 van sy bekendste toesprake gegrafeer. Mens kan die Lincoln memorial ook op die Amerikaanse 1c (die pennie) sien en Abraham Lincoln is ook op die $5 noot.
Vanaf die Lincoln memorial kan mens die Washington monument mooi sien, met 'n reghoekige dammetjie tussen-in, wat die "reflecting pool" genoem word.

Daarna is ons na die "Korean War Veterans Memorial" toe. Dit is 'n memorial vir die oorlog in Korea in 1950 - 1953. Daar is "stainless steel" standbeelde van Koreaanse soldate en 'n muur waarop gesigte van soldate ge-"sandblast" is.

Daarna het ons terug gestap hotel toe en 'n taxi gekry na die lughawe. Washington het eintlik 3 groot lughawens. Ons het by die Dulles een geland wat eintlik in 'n ander staat (Virginia) is. Die Sondag het ons terug gevlieg van die Baltimore lughawe en dan is daar nog die Ronald Reagan lughawe in die stad self. Ons het Sondagaand met seer voete by die huis gekom, maar het die naweek baie geniet.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home