Jouberts in Dallas

Wednesday, February 08, 2006

The Eagle has landed

[Hierdie posting is al Maandag, 6Feb geskryf, maar ek publish dit nou eers omdat die internet in ons woonstel nou eers aan die gang is]

Uiteindelik is ons nou hier in ons eie "apartment" in Dallas. Dit is nou Maandag-oggend 6 Feb, maar laat ek eers opvang waar ek laas opgehou het..

Die laaste week voordat ons gevlieg het, het op sy eie ook baie vinnig verby gevlieg. Ons het omtrent elke aand iets aan die gang gehad om mense te groet.
Ons het die Vrydagoggend bietjie later geslaap en toe alles begin inpak. Volgens die reels wat Jana by die travel agents gekry het, kon ons omtrent ons hele huis inpak. (Tussen ons twee kon ons omtrent 200kg saamvat!) Die pakkery het ook nogal lank gevat en voor ons ons kon kry was dit tyd om te ry en ons het 2 redelike swaar tasse gehad. Ons het nie 'n skaal gehad nie en maar gehoop die tasse oorskry nie die 32kg per tas limiet wat ons het nie.
Ons het vinnig vir Corli gaan oplaai en toe is ek, Jana, Corli en ma Irma lughawe toe. Met ons bagasie in-check het die sekuriteitswag toe een van ons tasse deursoek. Weet nie eintlik hoe hy besluit het watter een en hoekom nie, maar nou ja - hy doen ook seker maar net sy werk.
Net toe ons wegloop na die in-check en na die boarding passes kyk, lyk dit toe vir ons asof die sitplekke nie langs mekaar is nie (27G en 27K). Ons was definitief nie bereid om vir so lang trip nie langs mekaar te sit nie. Ons is toe weer terug, maar die vrou verseker ons toe dat dit langs mekaar is.. (Weet nie wie daardie nommer stelsel uitgedink het nie!). Die connecting vlug van Atlanta na Dallas se sitplekke lyk toe ook nie langs mekaar nie, maar die vrou se^ toe dat sy niks daaraan kan doen nie.

Ons het toe 'n koffie gedrink terwyl Dirk, Yvette, Gattie en Annalene ons op die lughawe gekry het. Het so bietjie gesels, maar die spanning was maar hoog. Kort voor lank was die trane al afgevee, ons paspoorte gestamp en loop ons rond in die "duty free" area.
Bangerig, maar baie opgewonde sit ons toe op die vliegtuig en wag om op te styg. Gelukkig was dit toe net 'n 2-sitplek ry. Jana sit teen die venster, en ek teen die paadjie. Seker omtrent so 10 minute voordat ons moet opstyg laat weet die kaptein van ons skippie dat hulle een of ander tegniese probleem gekry het en dat ons vir omtrent 'n uur moet wag voordat ons kan opstyg, maar niemand mag van die vliegtuig af klim nie.
Ons koppe begin toe al klaar draai oor hoe lank die vlug alreeds is, en dat ons nog 'n connecting vlug ook moet haal. Maar nou ja - dis seker beter dat hulle tegniese probleempies optel terwyl ons op die grond is!
Ons het toe op die ou end seker so 1 en 'n half uur later opgestyg as wat ons moes (so 9:00PM Suid-Afrika tyd). Al die movies en inligting op die vliegtuig se "entertainment" goed was nogal interressant, maar dit het so bietjie probleme gegee. Erens deur die aand het die movies net gestop en hulle het elke keer die goed ge-"reset". Tydens die operasie sien ek toe tot my verbasing dat hulle Linux gebruik vir die hele storie. Nie baie goeie advertensie vir Linux as hulle so baie moes restart nie, maar miskien was die lugwaardinne maar Windows users ;-)

Na omtrent 8 ure stop ons toe op een van die Kaap Verdiese eilande vir petrol en nuwe, vars lugwaardinne! Daar moes ons ook omtrent 'n uur op die vliegtuig bly.
Die volgende lang deel was toe seker so 10 ure Atlanta toe. Ek en Jana kon darem so elke kort-kort 'n rukkie slaap inkry. Ek dink sy seker meer as ek, maar dis net omdat sy al baie oefening het om in 'n bewegende voertuig te slaap!

Toe ons in Atlanta aankom was dit net so voor 9:00 die oggend in hulle tyd. So ons was teen hierdie tyd 'n goeie 20 ure van die huis af, maar dit was eintlik net so 12 ure later - wat 'n lang nag!
Die polisie mense by die Atlanta lughawe was nie te vriendelik nie. Ek dink hulle werk is maar bietjie vervelig, maar hulle wou eintlik net hoor wat ons in Amerika kom doen voordat hulle ons toelaat en ons paspoorte stamp.
Nadat ons ons tasse gekry het moes ons dit weer op 'n ander band sit vir die vlug na Dallas. Ek en Jana besluit toe dat ons sommer wil uitvind oor die sitplekke op die volgende vlug. Die ou was toe baie vriendelik en skuif ons toe om langs mekaar te sit.
Daarna moes ons al ons hand bagasie deur die sekuriteit sit. Ons moes ook ons skoene uittrek, belde afhaal en ek moes my rekenaar ook uit sy sak haal. Na die "strip show" het ons toe 'n treintjie gery na die plek waar ons wag vir die vlug na Dallas.
Die vlug sou seker eers so oor 2 ure vertrek en ons het besluit om maar 'n koffie te koop. So toe doen ons ons eerste koop transaksie op Amerikaanse bodem: 2 "iced coffees" by Starbucks. Dit was nogal duur volgens ons ($5.11) en was toe nie eers heeltemal wat ons verwag het nie. Ons het meer iets milk-shakerigs verwag, maar dit was net baie sterk koffie met ys in - maar nou ja, dit het ons wakker gehou! Dit was toe ook sommer die eerste keer wat ons nie kan hoor wat 'n Amerikaner se^ nie.. na omtrent 3 "pardons" en "excuse me"'s kom ons agter sy vra of ons dit "sweetened" of "unsweetened" wil he^!

Ons vlug Dallas toe het toe ook so bietjie laat vertrek, maar dit was darem redelik pynloos. Ek het op die vliegtuig so bietjie geluister na Amerikaners rondom ons, maar al praat hulle seker Engels, kon ek maar min verstaan!
Met nog 'n uur verskil tussen Atlanta en Dallas, kom ons toe seker so 13:00 Dallas-tyd by Dallas Fort-Worth lughawe aan. So ons dag het sopas nog 'n uur langer geword!
Daar wag toe 'n omie van Limo-link service vir ons met 'n bordjie wat se^: J. Joubert. Ons gesels toe bietjie met hom terwyl ons wag vir ons bagasie om uit te kom. Hy help ons toe na die kar, en ja - almal was reg.. alles is net groter! Ons ry toe in 'n Lincoln kar, wat se agterkant omtrent so groot soos ons vorige huis se slaapkamer is (ok, ek oordryf net so klein bietjie, maar dit was baie groot).
Hy vat ons toe na die plekkie waar ons die sleutels moet kry vir ons woonstelletjie. Die tannetjie daar weet toe niks van wat ons wil he^ nie en stuur ons toe na die managing agents vir ons woonstelle. Dit was darem nie te ver nie. Hulle weet toe ook nie veel van die sleutel nie, maar ten minste was ons toe op die regte plek.
Die koddige limo mannetjie raak toe bietjie haastig en ons laai toe maar ons tasse uit en wag in die kantoortjie terwyl die mense die sleutels uitsorteer. Ons kry toe die sleutels, remote en aanwysings na die woonstelletjie en loop toe maar sommer soontoe (darem nie te ver nie).
Die plekkie is groter as ons vorige huisie in Johannesburg en is op die 2de vloer van 'n 3-vloer gebou. Die paar blokke om ons is eintlik almal deel van dieselfde "kompleks".
Die huisie is redelik goed toegerus met 'n wasmasjien, tuimeldroer, skottelgoed wasser, toaster, mikrogolf, oond, televisie, DVD player, telefoon, groot King-size bed, ens.
Dit is ook teenaan die middestad van Dallas. Jana se kantoor is in "downtown Dallas", en ons is net so 1km daarvandaan.

Teen die tyd was ons al redelik honger en stap toe na 'n straatjie hier naby met baie restaurantjies. Ons gaan sit toe sommer by 'n soort pub (amper soos 'n Keg of McGintys).
Ek drink toe my eerste Budweiser (glad nie sleg nie!) en Jana het 'n Celis White gehad (ook 'n tipe bier).



Ons bestel toe elkeen 'n beef burger en chips. Of sal ek eerder se^ 'n hele bees tussen broodjies en 'n land aartappels. Hulle noem dit "skinny fries" (soos McDonalds se dun chippies), maar dis genoeg om Etiopie vir 'n week te onderhou! - G'n wonder die mense is so bietjie vas op die aarde hier nie..



Die hele storie het ons seker so $21 dollar gekos en soos ons uitgevind het is die standaard hier om omtrent 18% tot 20% tip te gee. As jy in Rome is maak jy seker soos die Romeine, so die (darem vriendelike) waitress kry toe haar allemintige tip.

Na ons baie lang Vrydagaand in die lug en uitputtende Saterdag het ons toe sommer 7uur die aand al in die bed geklim. Ek moet se^ die King-size bed werk baie beter as 'n ekonomiese klas vliegtuig sitplekkie!

Sondagoggend was ek en Jana maar altwee redelik "down". Ek dink dit tref ons toe eers dat ons in 'n vreemde land is, ver van almal wat ons ken, met geen groceries in die huis nie! Ons moes mekaar maar bietjie oortuig dat dit te gou is om te besluit of dit lekker is, want dit het toe nie so lekker gevoel nie. Ek dink dit was ook maar omdat daar nog so baie vreemde dinge vir ons voorle^.
'n Tannie van die "relocation company" het ons toe so 11:00 Sondagoggend kom oplaai en ons bietjie in Dallas rondgewys. Sy was baie vriendelik en het ons gevat na Jana se werk toe, die naaste grocery plekkie, hospitale, ens. Ons het maar baie vrae gevra en het lekker met haar gesels. Sy het my ook na 'n rekenaar plekkie gevat waar ek 'n netwerk kabel ten duurste gekoop het vir die internet in ons woonstelletjie (bietjie later meer oor hierdie gesukkel).
Sy vat ons ook toe na Love Field Airport om Jana se huurkar daar te kry. Dit is 'n kleiner lughawe hier in Dallas. Getrou aan die standaarde in Texas, kry Jana toe 'n Ford Taurus kar. Dit is darem nie te groot nie, maar is nogsteeds groter as die gemiddelde kar in S.A. En alles is natuurlik outomaties.. ek het sover nog nie een hand-rat kar gesien nie.
Ons moes toe agter die "rondwys-tannie" aanry na 'n supermark nie te ver van ons huisie af nie, waar ons bietjie groceries sou koop ('n kleiner Walmart met net kos). Jana is sover opgegee as die enigste bestuurder van die kar, so sy het bestuur en ek het aan die kant gesit waar die stuurwiel moes gewees het, ge-navigate en die heeltyd seker gemaak ons bly aan die regterkant van die pad!
Die tannie los ons toe by die supermark en ons koop toe 'n goeie +- $100 se groceries. Die meeste goed is maar omtrent dieselfde geprys as in S.A, behalwe die vleis wat redelik duur is. Die grootste verskil is dat daar honderde make is vir dieselfde ding. Jy moet omtrent uit 20 make vir jou 'n corn-flakes kies!
Ek weet ook nie hoe lank dit sal vat voordat ons ophou om die heeltyd "conversion" sommetjies in ons koppe maak nie: Dollars na Rand, ounces, gallons, feet, ens!
Ek en Jana pak toe self die stukkie pad aan terug na ons huisie toe, pak alles uit en bestudeer so bietjie die Dallas kaarte wat hulle vir ons gegee het.

Ons besluit toe om Sondagmiddag self na Jana se werk te ry om seker te maak ons kry dit reg. So Jana beheer die bokwa, terwyl ek navigate en vir ligte en borde check. Na 'n paar keer het ons darem goed begin regkom.
Ons ry toe sommer na 'n ander winkel bietjie verder van ons af om vir Jana 'n haardroer te gaan koop. Ons het hare saamgebring, maar die plug wat ek in S.A gekoop het convert lyk my toe nou nie ons 220V na die yanks se 110V nie. Jana se haardroer roer skaars as ons dit in-plug.
Gelukkig kry ons toe een by 'n winkel (Target), wat ook omtrent enige ding verkoop - en dit tot 9:00 op 'n Sondagaand!

Terug by die huisie kyk ons bietjie televisie, bel huis toe met die "international dialing card" wat ons gekoop het, en gaan slaap toe voor die eerste groot werksdag.
Ek ry toe vanoggend saam met Jana na haar kantoor toe, sit toe bietjie daar in die kar (ons was natuurlik heeltemal te vroeg!). Sy gaan toe net na 8:00 in, en ek stap toe sommer terug woonstel toe. Die oggend-luggie was toe nogal koel (45F - hierdie een moet julle vir oefening self uitwerk!)

Ek kon toe nogsteeds nie die internet aan die gang kry in die woonstel nie. Druk die kabel in by die muur, maar dis so dood soos 'n mossie. Ek was toe netnou by die managing agents se kantoortjie, wat vir my 'n nommer gegee het wat ek kan bel. Hulle sal nou terugkom na my toe. (Sodra julle hierdie kan lees, moet ek al op die internet wees, so ons hoop maar dit gebeur vinnig!)

Ek hoop alles gaan goed by Jana se werk vandag (sy het een of ander orientering en training). As sy my laat weet, sal ek vanmiddag weer na haar kantoor toe stap om saam met haar terug te ry - sal maar sien vir hoeveel sy kans sien.. ek is klaar baie trots op haar oor hoe goed sy regkom!

Ek gaan nog intussen probeer reel vir 'n plekkie op die internet waar ons bietjie fotos kan publish. Sal laat weet sodra dit aan die gang is.
Ons het 'n telefoon in die woonstel, en ek sal die nommer bietjie aanstuur per e-mail vir die wat dit wil he^. Omdat ek nie graag deur die hele internet gebel wil word nie, gaan ek dit nie hier opsit nie!

Tot volgende keer..

0 Comments:

Post a Comment

<< Home