Jouberts in Dallas

Wednesday, June 21, 2006

Los Angeles

Laas naweek was ons laaste naweek-uitstappie hier binnie die US en ons was Los Angeles toe vir dit. Al wat nou oorbly is een naweek in Dallas en dan 'n week vakansie in Vancouver dan is ons oppad terug.

Ons het die Vrydagaand by die lughawe aangekom en moes bietjie wag vir 'n shuttle bussie wat ons na ons hotel sou vat. Die lughawe was verskriklik besig en die mense ry net soos hulle wil! Oppad na ons hotel het ons verby 'n blok gery wat die polisie afgekamp het. Dit het omtrent soos in die movies gelyk. Baie polisiekarre en net ligte. Wonder nogsteeds wat daar gebeur het?

Die Saterdagoggend het ons vroeg begin met 'n toer van die stad. Ons het voor die tyd kaartjies gekoop vir 2 toere die dag. Die oggend was Hollywood, Beverly Hills en Los Angeles en die middag 'n toer van die movie-sterre se huise in Beverly Hills.

Die toergids het darem baie van Los Angeles geweet en het ons breine toegegooi met inligting en geskiedenis. Tydens die toer het ons ook allerhande Hollywood trivia gekry van watter dele van flieks op sekere plekke geskiet is. Op die toer het ons die volgende gesien:
  1. Hollywood Bowl - 'n Amphi Teater wat meestal gebruik word vir musiek vertonings in Hollywood.
  2. Hollywood Walk of Fame - Dit is die sypaadjie langs Hollywood Boulevard, waar daar sulke sterre op die grond is vir bekende mense in Hollywood. Daar is op die oomblik meer as 2000 sulke sterre. Ons het sterre gesien van onder andere Jackie Chan, die Bee Gees, Celine Dion, Nicole Kidman, Charlize Theron, Whoopi Goldberg, John Travolta, Elton John ens.
  3. Kodak Theatre - Dit is waar die Acadamy Awards gehou word vanaf 2002.
  4. Grauman's Chinese Theatre - 'n Baie bekende teater ook in Hollywood Boulevard. Die Acadamy Awards was voorheen al daar ook gehou. Die gebou het 'n baie sterk Chinese styl. Voor die gebou is daar sulke blokke sement op die grond waarin party bekende mense hand en/of voet afdrukke gemaak het en boodskappies geskryf het. Ons het afdrukke gesien van onder andere Mel Gibson, Tom Cruise, Bette Davis, Sylvester Stallone en selfs Donald Duck!
  5. Rodeo Drive - Bekende straat in Beverly Hills met baie bekende en duur designer winkels soos Versace, Gucci, Lacoste, ens. Daar is ook 'n winkel van De Beers!
  6. La Brea Tar pits - Dit is 'n deel in Los Angeles, waar "Asphalt" (amper iets soos teer) sommer deur die oppervlak kom. Daar is lyk my ook baie fossiele en goed in daardie gebied gekry. Hulle het so een swart dammetjie wat afgekamp is waarin daar 'n paar olifant standbeelde is.
  7. Farmer's Market - 'n Deel in Los Angeles wat bestaan uit klomp restaurantjies en vars produkte. Ons het daar oorgestop vir middagete. Die plek was baie besig en dit was baie warm!
  8. Downtown LA - Ons het ook in die middestad gery. Daar is mooier dele, maar die meeste wat ons van LA gesien het, was maar vuil en bietjie afgeskeep. Die toergids het ons vertel van al die planne om die middestad weer bietjie lewe te gee en beter te maak.
  9. Disney Theatre - 'n Groot teater in Los Angeles met 'n snaakse boustyl van buite.
  10. Union Station - Los Angeles se groot stasie. Ons was nie binne die gebou nie, maar dit vergelyk glo met Grand Central in New York. Union Station in Los Angeles is glo ook gebruik in baie flieks.
  11. Olvera Street - Dit is bekend as die straat waar Los Angeles ontstaan het.
  12. Chinatown - Ons het net so vinnige kykie van die Chinatown in Los Angeles gekry. Dit is lyk my glad nie so groot soos die Chinatowns in die ander stede nie.
  13. Griffith Observatory - Dit is 'n observatory teenaan Mount Hollywood. Mens kan nie daar ingaan nie, want hulle is nou al lank besig met restourasie werk, maar ons kon dit darem van ver af sien.
  14. Hollywood Sign - Die bekende Hollywood sign teen die berg. Ons kon ook net 'n vinnige paar fototjies daarvan inpas terwyl ons gery het.


Daarna het ons met 'n toergids in 'n kleiner bussie in Beverly Hills rondgery waar hy vir ons by die huise van bekende mense omgevat het. Hy het ons voor die tyd gewaarsku dat die toer nie baie insiggewend is nie, en alles gaan maar oor skinder-stories en hoe die publiek so behep is met die movie sterre.
Die sterre hou natuurlik glad nie van al die aandag van die publiek nie. Die toergids het ons vertel hoe ongeskik hulle partykeer is as mens hulle sien. Die strate in Beverly Hills waar baie van hulle huise is, het ook nie sypaadjies nie. Dit is lyk my so gemaak dat mense nie daar moet rondloop nie, maar niks kan die toerbussies keer wat daar rondry en bietjie voor elke huis stop nie!
Mens kan nie altyd veel sien nie. Gewoonlik net 'n hek of heining, maar jy kry darem 'n idee van hoe groot en "grand" die plekke is.
Ons het huise gesien van onder andere Elvis (of natuurlik waar hy gebly het), Dr. Phil, Christina Aguilera, Jean-Claude van Damme, die Ozbornes en Madonna.
Die een straat wat Beverly Hills van die res van Los Angeles (Hollywood) skei, is Santa Monica Boulevard. Die toergids het daar gery en ons laat oplet hoe dit verskil aan weerskante van die straat. Beverly Hills se kant het mooi groen tuine en baie groot huise, terwyl die LA kant vuil en afgeskeep lyk. Dit wys maar net hoe daardie mense in hulle eie wereldjie lewe!

Daar bly nou net 'n paar reelings en baie inpak oor voordat ons Vancouver toe gaan. Ons moet uit ons woonstelletjie trek voordat ons Vancouver toe gaan, so dit los ons met net so bietjie meer as 'n week in Dallas - kan amper nie glo dat die tyd so gevlieg het nie!

Wednesday, June 14, 2006

Disney World

Ons het laasnaweek kans gehad om te maak asof ons kinders was, en was vir 'n paar dae meegevoer in die "magical" Disney World.
Ons het Vrydagmiddag na werk Orlando toe gevlieg. Disney probeer jou vakansietjie so maklik as moontlik vir jou maak. Ons moes net sulke geel "tags" aan ons tasse vassit, dan sorg hulle dat jou tasse by die plek uitkom waar jy bly. Jy klim net van die vliegtuig af en kry 'n bus (Disney's Magical Express) na Disney World.
Op die bus het hulle TV skerms, waar hulle jou so vinnig wys van hoe alles werk en wat jy by Disney kan sien, sodat jy nie te veel oorweldig word deur alles as jy eers daar aankom nie.

Daar is baie soorte blyplek op die Disney eiendom, elkeen met sy eie tema. Ons het in die "All Star Movies Resort" gebly, waar daar allerhande karakters uit Disney flieks oral op die geboue en perseel was. Mens kry regtig sommer so vakansie gevoel as jy daar rondloop. Daar is eetplekke, winkeltjies en 'n groot swembad sommer daar by die resort, so mens kan maklik sommer 'n paar dae net by die resort spandeer as jy vir 'n langer tyd daar is. Mens kry ook "key cards", wat jy dan omtrent kan gebruik vir enige iets in die tyd wat jy daar is. Dit is die sleutel vir jou kamer en jy kan dit ook gebruik om te betaal vir kos of enige iets in Disney World (dit is gelink aan jou kredietkaart). Die hele Disney kompleks is 122 vierkante kilometer groot (groter as San Francisco stad!) en is die grootste "theme park resort" in die wereld.

Ons het die eerste aand maar redelik min geslaap, want ons het redelik laat daar aangekom, en toe moes ons nog wag vir ons bagasie (al wil hulle dit vir jou maklik maak, is dit tog partykeer seker net makliker om dit self te doen). Ons tasse het eers omtrent 2 uur die oggend by ons kamer aangekom!

Ons het die Maandag verlof gevat, so ons het so amper 3 dae by Disney gehad (gewoonlik tel die laaste dag eintlik net as 'n halwe een as mens nog moet terugvlieg). So ons moes 'n goeie pas handhaaf om ten minste die 4 groot parke in te pas. Dan is daar ook nog 2 water parke, en "Downtown Disney", waarby ons nie eers uitgekom het nie.

Die Saterdag was ons na die eerste park, "Magic Kingdom". Dit is 'n sprokiespark kompleet met 'n groot Cinderella kasteel. Baie van die Disney karakters loop daar rond en mens kan foto's neem by hulle. Ja, julle is reg, ons het dit ook gedoen. Ons het trots gaan staan langs Winnie-the-Pooh! Daar is ook baie rides waarop mens kan gaan en ons het soveel as moontlik probeer inpas. Hoogtepunte was 'n "runaway train", 'n ride van Buzz Lightyear, waar jy jou eie "geweer" gehad het om goedjies te skiet en 'n reis deur Winnie-the-Pooh se storie. Ons het ook deur Mickey Mouse se "country house" geloop. Dit is 'n hele huisie, met tuin, garage en al wat hulle gemaak het, waar Mickey "bly".



Daar is elke dag verskriklik baie mense by die parke en Disney het 'n manier gekry om die rye by die populere rides bietjie beter te maak. Hulle noem dit "Fast Pass". Jy kan enige tyd gaan en jou Disney kaart by so masjien indruk, dan print dit vir jou 'n kaartjie met 'n tyd wat jy kan terugkom. Jy kan dan rondloop totdat dit tyd is om na die ride toe te gaan. As jy dan teruggaan, dan hoef jy nie in 'n ry te staan nie. Dit werk nogal goed, die probleem is net dat selfs die Fast Pass kaartjies nogal vinnig gaan, en as jy nie baie tyd daar het nie, kan jy selfs van hulle mis. Ons het al gekry dat die tyd wat jy moet terugkom eers baie laat die middag is, selfs al is jy redelik vroeg in die oggend daar.
Jy het natuurlik altyd die opsie om in die "gewone" ry te staan. Hulle waarsku mens ook darem oor hoe lank jy in die ry gaan staan op 'n rekenaarskerm (gewoonlik enige iets van 5 tot 80 minute!).

Na Magic Kingdom het ons na die Epcot park gegaan. Epcot staan vir "Experimental Prototype Community of Tomorrow" en gee mens 'n goeie idee van wat daar aangaan. Daar is allerhande "space" en "futuristic" goed. Een bus bestuurder het ons vertel van hulle eie vertaling van Epcot: "Every Person Comes Out Tired" - en dit is amper 'n beter beskrywing!
By Epcot was ons eerste na "Mission: SPACE" toe. Dit is so klein karretjie ding waarin jy sit, met 'n screen reg voor jou oe. Jy word heeltemal toegemaak en die hele ding spin dan om 'n gevoel van swaartekrag te kry. Die idee is dan dat jy in jou space shuttle mars toe vlieg. Dit was omtrent 'n belewenis, maar was so bietjie erg vir Jana. Sy het bietjie motion sick geraak van dit en het besluit dat sy nooit 'n austronaut sal kan wees nie...
Nog 'n hoogtepunt was die "Living Seas" gebou. Daar het ons 'n interactive show gekyk van "Crush". Dit is die see-skilpad van "Finding Nemo". Hulle het ook 'n hele akwarium daar met baie visse en seediere.
Een deel van Epcot word die "World Showcase" genoem. Dit is 'n groot deel, waar verskillende lande voorgestel word. Elke land het dan sy eie geboutjies, restaurante en winkeltjies en daar werk mense wat van daardie land af kom. Mens kan nie glo hoe goed dit gedoen is nie. Jy kry sommer die gevoel van elkeen van daardie lande as jy daardeur stap.

Die Saterdag was ons weer terug na Epcot. Daar is 'n ride van General Motors, waar jy in 'n baie vinnige kar kon ry wat ek graag wou doen, maar ongelukkig was dit so vol dat ons nie tyd daarvoor gehad het nie. Ons het 'n "ride" gedoen waar jy in 'n stoel sit, met 'n groot skerm voor jou. Dan laat hulle jou voel asof jy oor California vlieg in 'n "hangglider". Dit is regtig goed gedoen, met die wind wat waai en jy kry selfs die reuk van party van die goed waaroor jy vlieg (soos lemoen bome)!
Ons het ook 'n show gekyk wat gebasseer is op die fliek "Honey, I shrunk the kids". Dit is 'n 3D show (weer met daai snaakse brille), waar hulle jou "shrink" (net met special effects!) en dan weer normale grootte maak. Dit was baie goed gedoen en ons was baie beindruk met die tegnologie wat hulle gebruik het.

Na Epcot was ons "Animal Kingdom" toe. Dit is 'n park wat baie gefokus is op diere en die omgewing. Daar het ons op 'n ride gery (dit is gerate as die nommer een attraction in Disneyworld), die "Expedition Everest", wat ook 'n treintjie ding is wat deur die Everest berge gaan. Genoeg om te se^ dat ons lekker geskree het! Daar het toe ook sommer 'n lekker reenbui uitgesak. Dit het ons bietjie afgekoel na 'n baie warm dag. Ons het ook op 'n ride gery waar jy met dinosaurs te doene kry en nog 'n 3D show gekyk van "Bug's Life". Ons het ook 'n optog gesien van baie van die Disney karakters deur die straatjies in Animal Kingdom. Hulle ry op sulke vlotte deur die park en sing en dans die heeltyd.
In Animal Kingdom het ons ook 'n show gekyk van die Lion King. Daar was ook akrobate en hulle het gesing en gedans. Ek moet se^, ons was aangenaam verras. Die kwaliteit van die show was baie goed en ons het dit baie geniet.

Ons is die aand terug na die "Magic Kingdom" park. Daar hou hulle gereeld in die aande 'n optog deur die strate en ook 'n vuurwerk vertoning. Die park was verskriklik besig en ons het maar geskarrel om 'n sitplekkie erens by 'n restaurantjie te kry. Ons kon darem die optog mooi sien. Dit was baie goed, met klomp liggies. Baie karakters het verby ons geloop, of op die vlotte gery.
Die vuurwerk vertoning was ook baie goed, al het ons nou nie die beste sitplek daarvoor gehad nie. Baie van die vuurwerke kon ons nie sien nie omdat daar 'n groot boom aan ons een kant was. Dit was nog steeds 'n belewenis en volgende keer sal ons weet waar om te sit.

Die laaste dag was ons na die "MGM Studios" park toe. Dit het toe sommer van vroeg af gereen en mens kon sien dit was nie sommer net 'n vinnige reenbui nie. Ons het ons nie laat onderkry nie en sulke Mickey Mouse reenjassies (poncho's) gekoop. By MGM Studios het ons 'n paar shows gekyk. Onder andere, "Little Mermaid" en "Beauty and the Beast". Ons het ook op 'n ride gery wat die "Hollywood Tower Hotel" genoem word. Dit stel 'n storie voor van mense wat lank gelede in 'n hotel se hysbak geval het. Jy sit ook in so stoel en dan laat hulle jou ook so "val". Ek dink die mense om ons se ore was maar bietjie seer nadat ons daar keel skoongemaak het!

Die laaste dag het baie vinnig gegaan en ons moes weer 'n bus kry om terug te gaan lughawe toe. Dit was seker maar die reen en omdat daar so baie mense was, maar die bus waarop ons moes gaan was eers laat, en toe hy uiteindelik kom was daar te veel mense en ons het nie plek gekry nie! Die mense het toe vinnig geskarrel om vir ons 'n taxi te reel sodat ons darem betyds by die lughawe kon uitkom.
Ons het laat Maandagaand by die huis gekom, met baie seer voete na 'n naweek se baie stap. Ons kouse was ook nog steeds nat na die dag se reen by Disney World.

'n Baie lekker naweek! Ek sal dit sterk aanbeveel vir mense met kinders, of mense wat soos kinders wil voel (soos ons!)

Thursday, June 08, 2006

Washington D.C.

Laasnaweek was ons na Washington D.C - die hoofstad van Amerika.
Ons het die Vrydagaand vanaf Dallas vertrek na die Washington Dulles lughawe (nogal confusing!). Ons het redelik laat daar aangekom (en verloor ook 'n uur met die tyd zone). 'n Hotel shuttle het ons na ons hotel gevat. Die eerste een met 'n GPS wat vir hom vertel waar om te ry. Miskien ken hy nog nie Washington so goed nie, of dalk hou hy maar net van die tegnologie.

Ons het voor ons gegaan het al 'n stad-toer geboek op 'n bus. Die bus sou van Union Station vertrek, en ons het besluit om sommer soontoe te stap. 'n Mens sien baie van die stede as jy sommer net so in die straat rondloop. Dit was toe 'n goeie 15 (groterige) blokke om daar te kom! Die strate in Washington is ook baie snaaks uitgele^. Dit is meestal ook in 'n "grid" styl, maar daar is heelwat sirkels (of "roundabouts" soos hulle dit noem) en ook 'n paar skuins strate wat jou partykeer lekker deurmekaar kan maak. Jy loop nog in een straat en sonder dat dit vir jou voel dat jy afgedraai het, kom jy agter dat jy ewe skielik in die verkeerde straat is!

By die stasie het ons eers by 'n restaurantjie geeet voordat ons op die bustoer gegaan het. Washington het verskriklik baie monumente en museums en is baie ryk aan Amerikaanse geskiedenis. Op die bustoer het ons die volgende gesien:
  1. Union Station - Die groot stasie waar ons op die bus geklim het. Die stasie is baie mooi en gee amper die gevoel van die Grand Central Station in New York.
  2. US Capitol - Die staatsgebou van die hoofstad van Amerika. Ons het eers net met die bus verbygery en besluit om later weer terug te gaan soontoe.
  3. FBI Building - Die gebou waar die FBI baie van hulle kantore het.
  4. Spy Museum - 'n Museum oor espionage.
  5. Hard Rock Cafe - Die bekende bar, wat in baie stede is.
  6. White House - Die huis van die president. Dit was nie baie ver van waar ons hotel was nie en ons het besluit om ook later soontoe te stap.
  7. Lincoln, Vietnam en Korean Memorials - Verskillende memorials redelik naby aan die wit huis. Ons het besluit om die volgende dag ook by hulle rond te loop.
  8. Arlington Cemetery - 'n Baie groot begraafplaas. Dit is ook waar president Kennedy begrawe is.
  9. Washington National Cathedral - 'n Baie mooi en ou katedraal.
  10. National Zoo - Ons het net naby die dieretuin verby gery, en nie regtig veel daarvan gesien nie.
  11. Washington Monument
Ons het by die Washington Monument afgeklim en eers by die World War II memorial rondgeloop. Daar is 'n dammetjie met fonteintjies, wat omring word deur pilare vir al die Amerikaanse state wat betrokke was by die tweede wereld oorlog. Teen een van die mure is daar ook 4048 goue sterretjies. Elke sterretjie verteenwoording omtrent 100 Amerikaners wat in die oorlog dood is - 'n allemintige 400 000!
Na die wereld oorlog monument het ons geloop na die Washington Monument daar naby. Die Washington Monument is seker die bekendste toring in Washington en is 555 voet hoog. Die monument is in 1848 begin bou vir die eerste Amerikaanse president (George Washington). Vanaf die Washinton Monument kan mens die wit huis aan die noordekant sien, die wereld oorlog museum en Lincoln Memorial aan die westekant en die State Capitol aan die oostekant. Al daardie groot plekke is redelik naby mekaar in daardie omgewing.



Na die Washington Monument het ons besluit om terug te stap na die State Capitol. Op pad het ons verby baie mooi geboue gestap, waarvan die meeste omtrent museums is. Soos ek verstaan, vra die meeste van die museums in Washington nie eers toegangsgeld nie. Ons het rondom die State Capitol geloop en kon darem 'n paar fototjies inpas.
Die strate se name in Washington is uitgele^ met die State Capitol as die middelpunt. Vanaf die State Capitol, word die stad opgedeel in 4 dele (North West, North East, South West en South East). Die strate wat Noord/Suid loop is genommer vanaf 1, wat begin by die State Capitol en die Oos/Wes strate is letters van die alfabet, wat ook by die Capitol begin as A. Dis genoeg om enige ou deurmekaar te maak, want dit beteken dat daar byvoorbeeld twee 10e strate is, een wat 10 strate oos van die Capitol loop (in NE en SE), asook een wat 10 strate wes van die Capitol loop 9 in NW en SW)! Elkeen van die straat naambordjies wys darem duidelik in watter deel jy nou eintlik is.

Na die State Capitol het ons weer terug gestap Union Station toe, waar ons bietjie in winkeltjies rondgeloop het en sommer aandete ook geeet het. Ons het daarna die 15 blokke aangepak terug hotel toe en het sommer so bietjie van Washington in die aand gesien.

Die Sondag het ons weer ons stapskoene aangetrek en eers na die wit huis gestap. Ons kon paar mooi fotos neem van altwee kante. Die tuine by die wit huis is baie mooi. Daar is ook baie sekuriteit rondom die gebou en ek het nogal gewonder of oom Bush daar binne die huis was terwyl ons daar buite rondgeloop het.

Na die wit huis het ons na die Vietnam memorial gestap. Dit bestaan uit 'n lang muur waarop die name gegrafeer is van 58 000 Amerikaanse soldate wat dood is in die Vietnam oorlog. Die mure is van graniet, wat baie goed reflekteer. Dit lyk amper soos 'n spieel. Dit voel nogal snaaks om daar te loop en ons kon net dink hoe mense moet voel wat familie of vriende in daardie oorlog moes afstaan. Daar is op party plekke briefies van familie wat nogal hartroerend is.

Na die Vietnam memorial het ons na die Lincoln Memorial gestap. Dit is 'n mooi gebou, met 'n standbeeld van Abraham Lincoln wat in die middel sit op so groot stoel. Teen die mure van die gebou is die woorde van 2 van sy bekendste toesprake gegrafeer. Mens kan die Lincoln memorial ook op die Amerikaanse 1c (die pennie) sien en Abraham Lincoln is ook op die $5 noot.
Vanaf die Lincoln memorial kan mens die Washington monument mooi sien, met 'n reghoekige dammetjie tussen-in, wat die "reflecting pool" genoem word.

Daarna is ons na die "Korean War Veterans Memorial" toe. Dit is 'n memorial vir die oorlog in Korea in 1950 - 1953. Daar is "stainless steel" standbeelde van Koreaanse soldate en 'n muur waarop gesigte van soldate ge-"sandblast" is.

Daarna het ons terug gestap hotel toe en 'n taxi gekry na die lughawe. Washington het eintlik 3 groot lughawens. Ons het by die Dulles een geland wat eintlik in 'n ander staat (Virginia) is. Die Sondag het ons terug gevlieg van die Baltimore lughawe en dan is daar nog die Ronald Reagan lughawe in die stad self. Ons het Sondagaand met seer voete by die huis gekom, maar het die naweek baie geniet.

Monday, June 05, 2006

Chicago

Chicago is soortvan op die pad (of sal ek nou se^ lug), tussen Dallas en New York, so ons het op pad terug van New York af in Chicago oorgestop vir 'n paar dae.
Ons het die Saterdagaand redelik laat in Chicago geland en het met 'n bussie na ons hotel gery wat in die downtown area was. Teen daardie tyd was ons al baie honger en moeg, maar die honger het gewen en ons het by 'n pub geeet wat teenaan die hotel is.

Die volgende twee dae het ons al die volgende goed ingepas. Ons het eers gestap na die Sears Tower. Dit is baie naby aan ons hotel en is die hoogste gebou in die hele Amerika. Dit is die 2de of 3de hoogste gebou in die wereld (die mense raak redelik tegnies as hulle kompetisie hou oor die hoogste geboue). In elk geval, ons was op tot by die 103de vloer (die gebou het 'n totaal van 110) vloere! Die uitsig oor Chicago is asemrowend en ons het ook so bietjie geskiedenis geleer van die gebou. Die Sears Tower is ook baie vinnig gebou vir sy tyd (1970 - 1973).



Na die Sears Tower het ons gestap na die meer se kant toe. Chicago is gelee langs die Michigan meer. Die Michigan meer is een van die groot vyf mere in Amerika. Dit is die grootste varswater meer in die wereld wat heeltemal binne een land is. Dit is 494km lank en 190km wyd! As jy in Chicago staan, lyk dit soos die see, en nie 'n meer nie.
Baie naby aan die meer is die "Buckingham Fountain". Dit is blykbaar een van die grootste fonteine in die wereld. Die omgewing is baie mooi en ons het ook 'n baie warm dag gehad. Teen daardie tyd het die honger het ons weer beetgepak en ons het by 'n plekkie daar naby geeet wat ook 'n putt-putt baan het.
Ons het toe gestap na die "Navy Pier". Dit is 'n deel teenaan die meer (amper soos 'n waterfront), met allerhande goed om te doen en sien. Ons het daar op 'n groot Ferris Wheel gery. Dit vat omtrent 8 minute om in die rondte te gaan en mens kry ook nogal 'n mooi uitsig van bo af.
Daarna het ons 'n vertoning by die iMAX op die Navy Pier gaan kyk. Dit het oor seelewe gegaan, en eers toe ons sulke snaakse groot, wit brille by die teater kry besef ons dat dit 'n 3D vertoning is. En dit was omtrent 'n 3D! Ek het nog nie so iets gesien nie! Dit het omtrent gevoel asof ons saam met die visse onder die water is. Alles lyk so baie naby aan 'n mens en baie van die klein kinders in die vertoning het die heeltyd hulle hande uitgesteek om aan die goed "voor" hulle te vat!
Na 'n lang dag se loop het die hotel bietjie ver gevoel en ons het sommer met 'n trolley-tipe bussie terug gery na ons hotel. Ons het by 'n baie lekker Italiaanse restaurant in die stad geeet. Dit word die "Italian Village" genoem en is een van die meer bekende restaurante in die stad.

Ons het ook vir die eerste keer met 'n regte Subway trein gery. Dit was nou sekerlik nie heeltemal soos die in New York nie, maar was nogtans 'n goeie ervaring. Ons het nie lekker geweet wat om te doen nie en dit het seker op ons gesigte gewys, want 'n vreemde omie het sommer nader gestap en gevra of hy ons kan help. Hy vertel ons toe mooi wat om te doen. Dit was net een van die voorbeelde van baie vriendelike mense in Chicago.

Ons het toe ook bietjie meer van die stad geleer op 'n oop-dak toerbus. Dieselfde tipe wat ons in New York gehad het, waar mens by verskeie punte kan op en af klim vir die res van die dag. Op hierdie toer het ons die volgende goed in Chicago gesien:
  1. Sears Tower - Ons het voorheen self hierheen gestap en ek het al bietjie daarvan vertel.
  2. Millennium Park - 'n Park in die stad wat ook 'n rustige heenkome gee in besige stads-tye.
  3. Wacker South - Wacker straat in Chicago is een wat jou baie deurmekaar kan maak. By plekke loop dit Oos/Wes, en dan weer van Noord/Suid in ander plekke. Die straat het ook eintlik 2 vlakke (Upper en Lower Wacker). So dis nie goed genoeg om te se^ jy is in Wacker nie. Jy moet iets se^ soos "Upper Wacker North", of so iets!
  4. Theater District
  5. Art Institute
  6. Hilton Towers & Hotel
  7. Field Museum of Natural History - 'n Baie groot museum. Ons het hier afgeklim en na die Shedd Akwarium daar naby gegaan. Daar het ons 'n dolfyn-vertoning, walvisse en interessante seelewe gesien.
  8. Sheraton Hotel
  9. Navy Pier - Ons was die vorige dag self al by die Navy Pier en het nie weer hier afgeklim nie.
  10. Wacker North
  11. Hancock Center - Die John Hancock gebou in Chicago was op sy dag die hoogste gebou in die wereld buite New York. Dit het self 100 vloere en ons was op tot by vloer 96. Vir sy getroue aanhangers: Dit klink asof Jerry Springer daar binne-in die Hancock bly. Aan die voet van die Hancock is 'n Cheesecake Factory restaurant waar ons weereens geeet het. Daar naby is ook 'n Hershey's chocolate winkel waarby ons definitief 'n draai moes maak. Hershey's maak lekker chocolate en is baie bekend vir die "Chocolate Kisses" wat hulle maak. Ons is ook in 'n reuse boekwinkel daar naby (Boarders). Die winkel is versprei oor 3 vloere en as ons nou nie nog 'n deel van die stad wou gesien het nie, sou ons definitief baie tyd daar kon spandeer.
  12. Water Tower - Daar word gese^ dat dit die enigste gebou in Chicago is wat die groot Chicago vuur in 1871 oorleef het, maar dit is nie heeltemal waar nie. Dit was die enigste gebou in 'n groot deel, maar daar was darem ander geboue in ander dele van die stad. Vir die wat nie weet van die groot vuur nie, gaan lees maar bietjie op daaroor. Dit maak 'n groot deel uit van Chicago se geskiedenis en daar word geglo dat die vuur ontstaan het deur 'n koei wat 'n lamp omgeskop het! (Daar is ook ander stories van hoe dit ontstaan het).
  13. River North - 'n Deel aan die noordekant van die Chicago rivier ('n rivier wat deur die stad kronkel, en in die Michigan meer inloop).
Op die stad toer het ons ook die gebou gesien waar Oprah bly. Sy besit glo 3 vloere van die gebou vir haar huis. Lyk of sy genoeg geld maak uit haar show (wat ook in Chicago geskiet word).

Ons het ook 'n ekstra stukkie toer roete gedoen, waar ons die volgende gesien het:
  1. Chinatown - Ons het hier afgeklim om hulle eie Chinatown te bekyk, maar dit het nogal afgesteek teen die ander stede (San Francisco en New York). Die Chinatown in Chicago is net een korterige straat met net BAIE Chinese restaurante.
  2. Little Italy - Hulle eie Italiaanse deel.
  3. West Loop
  4. Greektown - Hulle eie stukkie Griekeland binne-in Chicago.
Ons is daarna weer terug Dallas toe na 'n lekker vakansietjie in New York en Chicago. Vir my het dit na nog 'n langer vakansietjie gevoel, want ek was eintlik laas by die huis voor ons San Francisco uitstappie!
Om op te som, was Chicago een van die mooiste stede wat ek nog in Amerika gesien het. Dit was nie so gejaag soos New York nie en al die mense waarmee ons te doen gehad het was baie vriendelik. Ek het regtig gevoel asof dit een stad is waarin ek nou nogal sal kan bly.

Volgende naweek gaan ons Washington toe net vir die naweek. Hou aan om hierdie blog te lees as julle meer wil hoor oor Washington!

Thursday, June 01, 2006

New York

Ek kan nie glo ons New York vakansietjie het so vinnig verby gevlieg nie. Mens dink voor die tyd hoe lank dit gaan wees en as jy weer sien is dit verby!

Jana het my die Vrydagaand laat by die lughawe kom haal na my San Francisco konferensie. Ons het die Saterdagoggend vroeg weer gevlieg, so daar was net genoeg tyd om my klere te was en in te pak. Ons het soos 2 skoolkinders in die vakansie maar net wakker gebly, want daar was nie nog tyd vir slaap nie.
Ons was toe natuurlik bietjie te vroeg by die lughawe die Saterdagoggend, maar vorige ondervinding het ons geleer dat vroeer beter as later is.

Ons moes toe so 3 ure in Chicago oorstaan vir ons volgende vliegtuig na New York. Net genoeg tyd vir lekker ontbyt. Ons het toe so 3 uur se kant in New York aangekom (John F. Kennedy lughawe). Die hotel waar ons gebly het was in New Jersey, wat nogal ver van JFK af is, so ons het 'n bus gekry om ons soontoe te vat. Ons het na die tyd besef dat dit beter sou gewees het as ons tot op Newark lughawe gevlieg het, wat baie nader aan ons hotel was.
Die eerste bus het ons tot in Manhattan gevat, waar ons moes oorklim op 'n 2de bus na Newark lughawe. Daar was een of ander optog in die stad gewees en die verkeer was net 'n gemors! Ons het toe sommer 'n goeie voorsmakie gekry van hoe New York se verkeer op sy slegste kan wees. Ons het so 3 uur geland en eers na 8 by ons hotel in New Jersey aangekom.. dit alles nadat ons die vorige aand nie geslaap het nie!
Ons het die vakansietjie saam met Jana se boetie Eben, sy vrou Diana en hulle 18 maande oue seuntjie Ruben spandeer. Saterdagaand was net lank genoeg vir vinnig eet en ons het toe 'n goeie nagrus ingesit.

Die Sondag het ons lekker laat geslaap het by 'n outlet mall naby aan die hotel gaan middagete kry en bietjie tyd daar spandeer. Daar is weereens baie klere wat nogal goed geprys is, so ons moes maar partykeer ons beursies bietjie styf vashou.

Net so vinnige agtergrond vir die wat nie weet nie.. New York bestaan eintlik uit 5 dele: Manhattan, Bronx, Staten Island, Brooklyn en Queens. Manhattan is amper die "hoof" eiland van New York as ek dit so kan noem.. die stad gedeelte. Ons het in New Jersey gebly, wat nie eintlik eers deel van New York is nie, maar 'n gewilde plek om te bly as jy naby New York wil wees.

Ons het besluit om die Maandag vir die eerste keer Manhattan toe te gaan en het met die hotel se shuttle bussie na die Newark lughawe gery. Van daar het ons 'n trein (NJ transit) gevat na Manhattan (Penn Station). Ons het toe eers bietjie in die stad rondgeloop. My eerste indrukke was anders as wat ek verwag het. Die stad is regtig baie groot met baie hoe geboue wat dig teen mekaar gebou is. Die strate is verskriklik besig (op die pad en die sypaadjies). Daar is honderde geel taxis en baie mense. Sommer so bietjie trivia tussen-in: Manhattan eiland is 21 myl lank en seker so 2 myl breed. Daar is 12700 geel taxis wat mense op die eiland rond ry! Daar bly so 1.5 miljoen mense op die eiland, maar daar gaan elke dag oor die 12 miljoen mense eiland toe vir werk / toerisme, ens.

Ons het toe op een van die oop-dak toer busse deur die stad gery. Manhattan is opgedeel in 'n paar dele. Ons het eers die "Downtown" toer gedoen en die volgende gesien:
  1. Empire State Building - Een van die bekendste geboue in New York se skyline. Van dat die Twin Towers nie meer daar is nie, is dit weer die hoogste gebou in NY.
  2. Flat Iron Building - 'n Baie snaakse gebou wat in 'n driehoek gebou is en van bo af soos 'n strykyster lyk.
  3. Union Square - 'n Deel waar markte gehou word party dae van die week.
  4. Greenwich Village - 'n Deel met baie musiek en boekwinkels.
  5. Soho - Staan vir "South of Houston", 'n deel met baie duur boutiques.
  6. Chinatown - New York se eie Chinatown. In oppervlak, nie so groot soos San Francisco s'n nie, maar soos alles in New York, digter bevolk.
  7. Little Italy - 'n Deel wat weer 'n klein Italie op sy eie is.
  8. World Trade Center site - Ons het net verby die deel gery waar die Twin Towers was (het die volgende dag bietjie daar rondgeloop)
  9. Wallstreet - Die bekende tuiste vir baie finansiele maatskappye.
  10. Battery park
  11. South Street Seaport
  12. Lower East Side - 'n Deel wat meer bekend is vir laer / werkersklas mense.
  13. East Village - Dit is omtrent maar 'n deel van die Lower East Side.
  14. Kips Bay
  15. United Nations - Die gebou waar die UN vergaderings hou, met die vlae van al die lid-nasies.
  16. The Waldorf Astoria
  17. Rockefeller - Die 2de hoogste gebou in NY.
  18. Times Square - Die "Theatre Center" van die stad. Dit is waar die broadway teaters ook is. Ons het hier afgeklim van die bus af, en by die grootste "Toys R Us" in die wereld ingegaan. Dit is 'n massiewe winkel met alle speelgoed waaraan jy kan dink, versprei oor 3 verdiepings. Jana het hier vir Ruben ook op 'n Ferris wheel rit gevat.
  19. Theatre District
  20. Carnegie Hall - 'n Plek wat bekend is vir konserte.
  21. Madison Square Garden - Dit is waar groot basketball en ander sporte gespeel word. New York het eintlik al 5 Madison Square Garden arenas gebou, met die nuutste een by die Pennsylvania station.
  22. Macy's - Die grootste "department store" in die wereld.
Na 'n lang dag is ons met die trein terug na Newark lughawe en toe weer terug na die hotel.

Dinsdag het ons weer Manhattan toe gegaan en het weer met die toerbus gery na die World Trade Center site, of Ground Zero soos dit bekend staan. Die hele stuk waar die Twin Towers was, is nog afgekamp en hulle is besig om nog daar te werk. Daar is lyk my al planne om 'n baie hoe gebou weer daar te bou. Teenaan die heining is daar baie goed wat vertel wat presies daardie dag gebeur het, met name van mense wat daar dood is. Dit voel regtig erg om daar te loop en mens voel sommer weer hartseer oor wat daar gebeur het.

Na die World Trade Center site het ons op 'n ferry gery na Liberty Island. Dit is 'n klein eilandjie net suid van Manhattan waarop die Statue of Liberty staan.



Dit is regtig 'n indrukwekkende monument met baie geskiedenis. Dit is deur die Franse aan die Amerikaners geskenk in 1886. Die monument is van koper en mens kan dit sommer sien met sy blouerige kleur. Die sekuriteit is baie streng en ons kon nie in die monument opgaan nie. Ons het net op die eiland rondgeloop en baie fotos geneem. Van die Liberty eiland kry mens ook 'n baie mooi uitsig oor die middestad van Manhattan en ook dele daar naby.
Die ferry het ook by Ellis Island gestop waar daar monumente en museums vir immigrante is, maar ons het nie daar afgeklim nie.

Na ons eiland toer het ons vir die eerste keer in een van die geel taxis gery na die trein stasie. Dit was ook nogal 'n ondervinding. Die taxi bestuurders ry regtig baie wild. Dit voel asof mens die heeltyd moet vasklou en partykeer wil jy maar net jou oe toemaak!

Die Woensdag was ons weer Manhattan toe en het hierdie keer 'n bustoer gevat na die noordelike dele van die stad (Uptown).
Met die Uptown toer het ons die volgende gesien:
  1. Worldwide Plaza
  2. Lincoln Centre
  3. Central Park - Die groot park in Manhattan. Dit is die enigste deel op die eiland waar mens bietjie kan wegkom van die gejaag en net onder 'n boom kan sit en ontspan. Die park is baie groot met paar dammetjies, baseball velde, baie gras en bome. Daar is baie mense wat daar draf, fietsry of sommer net rond sit.
  4. American Museum of Natural history
  5. Cathedral of St John
  6. Grant's Tomb
  7. Big Apple Jazz Centre
  8. Apollo Theatre
  9. Harlem Market
  10. Museum of the City of NY
  11. Guggenheim Museum - Dit is 'n baie bekende kuns museum en ek en Jana het so bietjie daar gaan inloer. Ongelukkig was hulle besig om 'n nuwe uitstalling op te sit, so ons kon net 'n klein deeltjie van die museum sien.
Na die Guggenheim Museum het ons bietjie by Central Park rondgeloop en het daar middagete geeet en net bietjie gerus. Dit voel baie snaaks om so rustige deel te he in die middel van 'n baie besige stad.
Ons het toe weer 'n taxi gevat na B&H Photo Video in die stad. Dit is 'n baie groot kamera winkel, waar ek 'n paar goedjies vir my kamera gekoop het. Die winkel het omtrent enige iets waaraan jy kan dink wat te doen het met fotografie, video of rekenaars. Ek is seker ek sal 'n paar dae daar kan deurbring (veral met 'n kredietkaart wat verkieslik nie myne is nie!)

Ons plan was om Donderdag vir ons laaste stad-toer Manhattan toe te gaan. Daar was toe een of ander krag onderbreking die oggend, wat baie van die treine buite werking gelaat het. Die trein wat ons die ander dae gebruik het het toe nie gewerk nie. Ons sien later op die televisie hoe die mense vir ure vasgekeer was op die treine (party binne die tonnels). Ons het toe maar sommer 'n taxi gevat na Manhattan.

'n Mens kry sekerlik die beste uitsig oor die stad vanuit die Empire State gebou wat die hoogste is, maar die mense staan in baie lang rye om daar op te gaan. Jy kan blykbaar sommer 3 ure wag voor jy kan opgaan. Die ander opsie (wat ons toe gedoen het), is om op te gaan in die Rockefeller gebou. Dit is ook 'n baie hoe gebou en ons kon opgaan tot by die 103de vloer. Hulle noem die uitkyk vlak "Top of the Rock". Die uitsig is asemrowend en ons het baie fotos geneem. 'n Mens kry 'n goeie idee van die eiland en alles rondom dit.

Na die Rockefeller gebou is ons na Grand Central Station. Dit is een van die grootste trein stasies in die wereld en is in 'n baie mooi gebou. Ons het bietjie daar rond geloop en middagete geeet by 'n redelike fancy restaurant. Die kos was baie lekker - dis nou nie elke dag wat jy by Grand Central Station uitkom nie!

Jana het 'n beadshop opgespoor en ons het 'n draai daar gaan maak. Die winkel het regtig baie goed en ek is seker as dit nie was dat ons 'n paar mense was wat nog by die huis wou uitkom nie, sou Jana amper nogsteeds daar gewees het. Van die goed is baie mooi, maar baie duur ook. Daar is party krale goed wat sommer $30 vir een kos!

Vrydag het ons weer na die outlet mall gegaan om nog 'n paar goedjies te koop. Ons het weer lekker middagete daar geeet en toe gaan gereed maak vir ons broadway uitstappie. Ons het voor die tyd al vir ons kaartjies gekoop vir die Lion King show. Die kaartjies was glad nie goedkoop nie, maar definitief die geld werd. Die show was in die "New Amsterdam Theatre", wat na 'n baie ou teater lyk. Alles was van uitstaande gehalte en ons het dit baie geniet. Mens lag ook nogal lekker vir wat die mense doen.
Toe ons later die aand uit die teater kom het dit lekker gereen en ons moes skarrel vir 'n taxi terug hotel toe.

Saterdag het ons New York vakansietjie tot 'n einde gekom en ons het dit afgesluit met 'n middagete saam met Eben, Diana en Ruben. Ons het daarna 'n taxi gevat na JFK lughawe want ons wou nie kanse vat om laat te wees met die trein of bus nie. Glo my maar net as ek se^ dat die taxi baie duur was en om alles te kroon kom ons toe agter dat die taxi bestuurder nie regtig weet waar die lughawe is, of hoe om daar te ry nie. Hy was duidelik nog nooit daar nie en moes 2 keer vra vir aanwysings. Dit gee mens glad nie daardie warm geruste gevoel nie! Nietemin was ons betyds by die lughawe en het ons vliegtuig gekry na Chicago, waar ons vir 3 dae oorgebly het voordat ons terug gekom het Dallas toe, maar meer oor Chicago in die volgende blog.